Sweet soos ‘n Arend

Sweet soos ‘n Arend

Hi. My naam is Berta en ek is gay. Ek hou nie van die woord lesbian nie. In fact. Ek is nie ‘n baie goeie lesbian nie, en goddank nie die titel werd nie. Die gay gemeenskap oorweeg dit sekerlik om my lidmaatskap terug te trek. Ek dink as hulle kon, het hulle my reeds lankal verban na die heteroseksuele kant van die buurt.
Sien. Sprekende voorbeeld.
Exibit A. Ek kan praat van kant sonder om te giggel.
Ek hou nie van P!nk, die sanger nie en ek hou baie van pienk, die kleur. My grootste droom is nie om ‘n bakkie te besit of saam met like-minded mense (lees ander gay vroue) deur Afrika te toer nie.
Ek hou nie van honde nie en katte laat my juk. Ek het nog nooit in my lewe ‘n fiets besit nie en ek het geen begeerte om vir 8 ure op een te sit en saam met miljoene ander ryers Suikerbossie uit te trap of uit te stoot en ná die tyd foto’s van my seer onderstewe op Facebook te plak en te maak asof dit lekker was nie. Motorfietse maak my bang.
Ek het nie ‘n funky haarstyl nie. My gesig is te rond vir kort hare en my slierte hang nie in mooi lang lokke om my bakore weg te steek nie. Ek dra nie grimering nie. Dit laat my juk.
Noem vyf gay kunstenaars?
Die enigste een wat ek nou vinnig aan kan dink is seker Laurika Rauch.
Sy’s nie gay nie? Maar sy het so ‘n diep stem…
Getroud, sê jy? Gmf. Wie sou nou kon raai.
Wel, in daai geval, seker maar Annelie van Rooyen? Ek het nog steeds ‘n crash op haar. As ek depressed is, sit ek Sweet soos ‘n arend…
Hoe sê jy?
Sweef. Met ‘n F? Nie sweet nie? Wil jy nou meer.
Wel, as ek depressed is, sit ek Sweefffff. Soos ‘n arend op die draaitafel. En as ek die dag nie uit die bed kan opstaan nie, dan leopard crawl ek tot by die platespleler en sit Ek lewe op. Ek bly dan sommer daar lê en fantaseer oor hoe ek myself gaan doodmaak. Maar dan gryp Annelie my aan my hartspunte en sleep my uit die dieptes. Toemaar. Ek is fine. Ek het nie die gutts om dit regtig te doen nie. Maar dis nogal ‘n lekker speletjie om te speel om te fantaseer hoe ek myself vankant gaan maak. Ek sal nie soos Sheila Cussons in die see kan inloop en myself verdrink…
Ingrid? Is jy seker? Was dit nie Sheila nie?
Ek kan nie swem nie, so dit sal in elkgeval nie werk nie. En ek kan nie eers ‘n braaivleisvuur aansteek nie. So, vlamme is ook uit.

Exibit B. Ek is nie kwaad nie. Ek hou van mense. Álle mense. Okay. Behalwe Piet Wiele wat my kar se wiele geslice het. Maar hy is weggevat Kaap toe. Glo in een of ander inrigting op die oomblik. So, nee. Ek hou régtig van mense. Hulle moet net nie tussen 11am en 4pm kom klop nie. Dan slaap ek. En tussen 4:30pm en 7:30pm kyk ek my sepies.
Ellen wie?
De Generes? Is sy Rooms? Ek behoort aan die NG Kerk. Ons glo mos nie eintlik aan die maagde en die goed nie.

Ek het nie ‘n cool coming out-storie nie. My Pa is lief vir my en my ma is die een wat my op die bank sit-gemaak het en vir my vertel het ek is gay nadat sy my en Lien bo-op mekaar betrap het waar Lien my gewys het hoe haar nefie haar altyd vasdruk. Ek het ‘n happy childhood gehad en die buurman het met niks anders as my hare gespeel nie. Wat ook weird was, want hy kon regtig baie mooi Franse-vlegsels maak. Ek het nie boom geklim nie. Dit het my laat juk.

Ek het nie hokkie gespeel nie. Ook nie netbal nie. Actually. Ek het nie aan sport deelgeneem nie. As ek te veel sweet, juk ek.

Die toneel-juffrou het my darem die souffleuse van die dramagroep gemaak. Tot sy uitgevind het, ek hakkel as ek stres. Maar toe is ons in elkgeval al op die toer.
Sharon het my in die ou projektor-kamer vasgedruk en gesoen. Hein het agter in die bus langs my gesit en sy hand onder my rok ingedruk. Ek het hom nie gekeer nie. Toe vat hy aan Sharon se hand – wat ook onder my rok was. Sharon het my nie weer vasgedruk nie. Ek is saam met Hein matriekafskeid toe.

Ja, en toe’t ek by SARS begin werk. Dis nogal lekker. Jy moet ‘n méns-mens wees om daar te kan werk. Ja, syfers is okay. Hulle het my op ‘n paar kursusse gestuur, wat lekker was. Darem so bietjie uit die dorp uit gekom. En toe’s ek na ou Mister Forbbs toe en het sy boeke gedoen, maar hy is toe mos net die volgende jaar dood, so toe is ek apteek toe. Nee, ek het nie daar gewerk nie. Ek het gaan pille koop. Om selfmoord te pleeg, maar ek het net vir drie dae aanmekaar geslaap en baie dors wakker geword. En dis toe dat ek die werk by die kerk gekry het. Skriba. Dis nie bad nie. Ek haat kleingeld, maar jy raak gewoond aan kollekte tel. En dié jaar het ek plek gekry in die Kersspel.
Nee, nie as souffleuse nie, snaaksie. Ek is actually ín die play. Ek is die engel wat die goeie boodskap bring.
Die orreliste sê ek het mooi oë en ek hoef nie te sing nie. Toe kry ek die rol.
Ek voel nie jammer vir myself nie. Dis net. Dis moeilik om ‘n minority in ‘n minority-groep te wees.
En dis dit.

1 mm ver van verlossing

Die mat kielie my kaalvoete. Die kamer se lug is koel teen my kaal borste. Die lessenaar blink steriel skoon. Behalwe vir ‘n pen, ‘n leerdagboek en ‘n lamp wat netjies gerankskik lê, liniêr in verhouding met mekaar. Ek haal diep en rustig asem. Ruik die skoonmaak produkte, gemeng met leer en handreiniger. Ek loop stadig om die lessenaar en trek ‘n vinger oor die blad soos oor die maag van ‘n geliefde, los ‘n spoor van my besoek. Ek gaan sit op die tafel, kruis my bene en vou my hande oor my knieë. Ek vryf my gladgeskeerde bene ingedagte terwyl ek die kamer verken. Sy heiligdom. Die mure gevly deur rakke boeke en nóg boeke.

Elke rak is alfabeties gerangskik. Volgens genre natuurlik. Rug aan perfekte rug. Afgemeet en in gelid. Afgemeet en presies. Met ‘n liniaal, vermoed ek.

Ek voel hoe hy na my kyk, met afkeuring en paniek. Die angstigheid sal hom lighoofdig maak omdat hy geen beheer het oor my nie. Geen beheer het oor my onbeheersdheid. Geen mag, geen sê. Want dis net ek hier. Hier in sy tempel.

My hart begin opgewonde te klop. Ek pers my lippe saam in ‘n poging om nie hardop te lag nie. My tone krul en die hitte van my afwagting kruip tussen my bene op.

Ek gly van die lessenaar af. Die koue blad teen my kaal boude laat my vir ‘n oomblik na my asem snak. Nóg ‘n streep van onthou op die blink blad.

Ek stap verby die rakke vol boeke wat hy seker almal twee keer gelees het. My vingers skoenlapper teen die rugkante van die boeke. Vlinder oor leer en papirus.

Ek streel die A’s tot anderkant Adler se What life should mean to you. Ek fladder verby die B’s tot by Covey se 7 Habits, waaier tot by Jung se Memories, dreams, reflections. My hand dartel oor die Pelzer’s en Piaget’s tot by Schreiber se Sybil. Ek stop. Stap stadig agteruit en vee met die rugkant van my hand alfabeties agteruit tot by F. Ek vinger Freud uit sy perfek afgemete staanplek. Ek trek hom stadig uit. Wikkel, wikkel tot hy stadig uitgly. Versigtig. Nie oorhaastig nie. Net ‘n bietjie. 1 mm is al wat ek nodig het.

Ek tree terug en bekyk my handewerk. Niemand sal agterkom iets is uit plek uit nie. Behalwe hy. Dit sal sy aandag aftrek terwyl hy agter sy lessenaar sit en obsesseer oor waar ek is en wat ek doen. Sonder dat hy sy vinger daarop kan lê, sal iets aan hom kom karring en knaag. Sal sy brein skaaf en skaaf tot hy die klip in die skoen kan opspoor.

Ek stap na die portrette agter sy lessenaar. Escher op Escher. Oneindige trappe wat klim en daal en in hul self ineenstort. Oor en oor en oor. Tot in ewigheid. Ek dink die titel is Infinity, het hy gesê. Gepas. Visse wat voëls word en wegvlieg terwyl dit terug swem. Wit op swart. Nes hy. Ek druk onder die regter hoekie van ‘n portret. Dit roer skaars. Miskien 2 mm. Dis te veel. Ek druk weer af op die linkerkantste boonste hoekie. 1 mm. Net genoeg. Vlieg in jou moer. Tot in ewigheid.

Ek gaan lê op die rusbank om my asem terug te kry. Ek vryf oor my maag en borste terwyl ek my pad van verwoesting aanskou en ek gloei. Gloei van die mag wat ek terugeien. Gloei van genoegdoening. Dronk van ek wees in sy wees. My hand vee oor die Persiese tapyt voor die bank. Ek herrangskik een fraiing. Daardie Turkse vakansie was in elkgeval ‘n frats. Ek los ‘n natkol op die bank en staan op.

Ek stap deur toe. Kyk vir oulaas terug oor sy geskende domein. My afskeidsgeskenk aan hom. Aan my. Ek sit die lig af en trek die deur toe.

En stap kaal by die voordeur uit, in my moer in. Tot in ewigheid.

 

 

 

Grondig

“Die plaas is verkoop.”

Hy vat ‘n sluk van sy koffie en staar na ‘n storie op bladsy 3. Daai stadsklonge is toe uit op parool.

“Pa? Het Pa gehoor wat ek sê?”

Hy blaai om en skud die koerant se kreukels reg. Dalk doof dit die gebrabbel van sy jongste dogter uit. Dalk sal sy weggaan.

“Pa! Ek sê. Die plaas. Die plaas is verkóóp!”

Sy gaan nie weggaan nie. Hy laat sak die koerant en kyk na sy meisiekind.

“My jene my kind. Dis nie nodig om te skree nie. Ek is nie doof nie.”

“Ek… Skies Pa.”

“Hoe lyk dit dan met ‘n koppie koffie? Mens sal ook doodgaan van die dors in die huis.”

Winnie sit met haar hande in haar skoot. Sy hou op vroetel en kyk na die ou man voor haar. Wat het van die sterk man geword? Wat het van die man geword wat die lewe laag getackel het, skouer eerste, kop af, voluit? Die plaas was sy lewe. Dit was háár hele lewe. Dis haar grootword plek. Dis waar die herinnering aan haar ma die varsste lê.

“Ek sal gaan maak Pa.”

Hendrik Stofberg sit met die koerant op sy skoot. Hy hou op met lees en kyk na die jong vrou voor hom. Wat het van die dogtertjie geword? Wat het van die sproetneus geword wat kaalvoet die wêreld tegemoet gehardloop het, altyd gelag het? Die plaas was haar lewe. Die plaas was sy einde. Dis waar Liesbet se spook hom elke dag kom opkerf het.

“Dankie, my kind. Nie so baie melk nie, asseblief.”

“Ja Pa.”

Sy sit die ketel aan. Sy druk haar kop teen die kombuiskas en maak haar oë toe. Sy kap haar kop ritmies teen die kas terwyl die trane teen haar nek afloop. As sy ‘n seun was, sou dit anders gewees het. Sy sou nou geboer het. Al haar notas en planne vir nuwe boorde en gewasse sou op sy ou lessenaar gelê het, gereed vir geboorte. In plaas daarvan maak sy koffie in ‘n aftree-oord vir ‘n ou man wat soos haar pa lyk.

Hy maak weer die koerant oop. Hy moes dit al lankal gedoen het. Hy moes al lankal die plaas verkoop het. Met die vorige droogte al. Voor Liesbet siek geword het. Hulle sou dan kon gaan toer het. Sy wou altyd so graag Ysland toe gegaan het. Maar in plaas daarvan het hulle vrugtevlieë, hael, droogte en die vrugteraad beveg. Hy kyk om hom rond en sien sy klein plekkie sonder spoke. Hy sit sy voete op die rusbank, maak sy oë toe en sug verlig. Hy het hom voorgeneem hy sal geen kind van hom forseer om te gaan boer nie. Hy sal nie aan hulle doen wat sy pa aan hom gedoen het nie. Hy sal hulle hul vryheid gee.

Sy dra die skinkbord in die sitkamer in. Haar oë is rooi. Haar hande bewe.

“Hiersô Pa. Ek sit sommer hier neer.”

“Dankie my kind.” Hy gooi suiker in en kyk uit op sy klein tuintjie sonder vrugte vlieë en besproeiïng.

“Ek weet nie of jy gehoor het nie?”

“Wat Pa?”

“Die plaas is toe mos verkoop.”

 

Tronkina for President

Tronkina de Wit het by die vliegtuig venstertjie uitgeloer. Onder haar het die baanblad vinnig verbygesnel. Die vliegtuig het te swaar gevoel. Haar handpalms het sweterig die armlening vasgeklem. Die spoed het haar soos ‘n onbekwame lover teen die sitplek vasgedruk en die asem uit haar longe forseer. Asemloos, net vir ‘n oomblik. En toe was hulle in die lug. Gewigloos het hulle Kaapstad agtergelaat. Net die liggies het in afgemete blokke vir oulaas simmetries gewink.

Totsiens my stad, het sy geswymel.

Jy gooi my weg om dollars te gaan verdien soos ‘n pimp ‘n goedkoop vrou afsmeer aan die nag. Ek sal terugkom. Jy sal sien, het sy belowe toe die sitplekgordel liggie afgaan.

Die lugwaardin se grimering het haar gemasker teen ingehokte reisigers. Die lemoensap was sleg en die plastiek vurk en mes het gerebelleer teen die taai lam. Die Niniput toilet het gestink en die man langs haar het oor sy stoel gewal in rolle vetsug tot op haar skoot. Haar bene het gekramp en die babatjie twee rye voor haar het homself bekendgestel aan almal en uur na uur sy verset teen sy geboorte uitgesaai. En wie kon hom blameer, het Tronkina gedink.

Niemand weet verseker wat die laaste strooi was wat die spreekwoordelike fan getref het nie. Party sê dit was die kos. Ander beweer dit was die turbilensie. Sy het ná die voorval in ‘n eksklusiewe onderhoud met Steve Hofmeyer gesê dit was die engel wat op haar skoot kom sit het.

Dit maak nie regtig saak nie, sing die sangeres.

Die volk is deur die kak, sing die sanger. Deur of in, Tronkina het dit laat spat.

Hulle weet tot vandag toe nog nie hoe sy in die cockpit ingekom het nie. Ook nie waar sy die tradisionele wapen in die hande gekry het waarmee sy die kaptein gedreig het nie. Nie eers Huisgenoot kon haar tot die waarheid bekeer nie.

Die passasiers het onraad vermoed toe Tronkina se stem oor die interkomstelsel begin streel.

Dit is julle kaptein, volksmoeder Tronkina Johannie Volsckenk de Wit, wat praat. Julle is nou veilig. Ek het julle kom red van die imperialiste, die kolonialiste, die kapitaliste en die wêreldheersers wat julle uit ons land ontvoer. Ons gaan terug. Terug huis toe, het sy triomfantlik gekloek. Die land het ons nodig!

Moenie bevrees wees nie, my broeders en susters. Die rebellie het begin. Saam sal ons geskiedenis maak. 

Die beheertoring het gepanick. Om die minste te sê en as hulle nog nie die Airplane movies gesien het nie, dan het hulle sekerlik die Ben Ladin uncut weergawes gesien om genoeg prentjies van katastrofe en lewensverlies in hul verbeelding op te tower.

Tronkina wou met niemand praat nie en dit was gou duidelik dat niemand haar sou kon begelei om die groot voël hand alleen te laat land nie. Wat nog te sê in een stuk terug te bring nie. Sy het op een of ander manier dit wel reggekry om met Amoré Bekker op die lug te gesels.

En daar, in die voorhuis van die hele land, het Tronkina haar vryheidstog begin. In die koutjie van ‘n British Airways kanarie. Sy het soos ‘n Racheltjie de Beer van ouds voor die in-en-uitgang van haar huis gaan lê om haar mense teen die koue van geldgierigheid en landsverraaiing te beskerm. Jonk en oud het vasgenael voor die draadloos gesit en luister en gewag.

Moet nie worry nie, my volk. Ons kom terug. Ons gaan julle nie verlaat nie, al word ons uitgestoot deur die staat, die ekonomie, die crime. Die enigste crime wat hier vandag gepleeg is, is dat ons nie al vroeër omgedraai het nie. 

Tronkina het op die ou end nie self die vliegtuig geland nie. Miskien jammer, want dan sou sy nou éérs ‘n hero gewees het. Maar sy was klaar een, so die kaptein het sy ding gedoen. Tronkina is op allerhande aanklagte in hegtenis geneem, maar dit het net haar vryheidsvegterstatus verhoog. Die pers het die storie opgeraap en baklei vir ‘n enkele onderhoud. Baie mense is nog steeds land-uit, maar ten minste het die wat agtergebly het, iemand gehad na wie hulle kon draai vir inspirasie en inbors. Later is selfs ‘n beeld van haar borste by die Voortrekker monument onthul. ‘n Haas is op die linker bors getatoeëer.

Die enigste deel van al die gebeure wat my brein steeds laat kriewel, is dat niemand haar ooit gevra het waar haar naam vandaan kom nie.

 

Die Aggressor

“Hou op huil, bitch!”

Daar is moord in sy oë. Die keer is hy gereed. Hy sal haar wys.

“Slaan haar!”

Sy hand huiwer bo sy skouer. ’n Spottende glimlag gly oor haar gesig. Sy weet.

“Dís jou line. Slaan haar!”

Sy begin saggies te lag. Dan harder. Totdat sy histeries haar kop agteroor gooi en met ‘n rooi, oop bek lag. Dit ruk deur hom, ruk deur sy hand.

“Dammit, Marnus. Dít was die oomblik. Ons het nie tyd om…”

Die regisseur druk sy vingers in sy hare en draai om. Hy haal diep asem, draai terug en vee olie strepe deur sy hare.

“Ek weet dis nie maklik nie, maar jy moet hóm raak. Jy ís die aggressor, jy is die doos, jy ís hierdie man. Vir 45 minute op díe verhoog moet jy uit jou vel klim, in syne in. As jy dit nie kan doen nie, dan… dan moet ons iemand anders kry.”

“Nee, nee. Dis nie nodig nie. Ek kán. Dis net. Dis net die één scene. Ek kán. Ek sal.”

Pleitende oë flits.

“Goed. Ek… Let’s call it a day. Sonja, nice emosie daar op die einde. Onthou net om jou lyf  meer vorentoe te draai, oop bene. Jy weet. Wys die vulnerability en confront die gehoor. Nice, nice. Sien julle môre. Marnus. Kry rus.”

“Ek sal. En. Dankie.”

Sonja lag back stage.

Marnus gaan sit op die kant van die verhoog terwyl almal opruim en gesels-gesels uitstap. Asof niks gebeur het nie. Sy loopbaan is besig om uitmekaar te val en hulle lag en gesels asof alles maar net fyn pikkewyn is.

Die laaste voetstappe eggo uit die saal uit. ‘n Deur slaan toe. Die stilte sif neer uit die balke en bedek alles met ‘n lagie gedempte verdriet.

Daar is niks so tasbaar soos die stilte in ‘n leë teater nie. G’n wonder daar is altyd stories van spoke in die teaters nie. Dis ‘n teelaarde vir visies en vergesigte. Dalk is dit die spoke van al die mislukte akteurs wat rondloop en nuwelinge probeer waarsku teen die doemende einde wat op meeste van hulle wag.

Dis te laat vir hom. Hierdie rol is net te veel. Hy is besig om van sy kop af te raak. “Wórd hom.” As die regisseur maar weet wat hy van hom vereis. As hy maar weet hoe hy elke aand met hierdie karakter stoei.

“Marni?”

‘n Slanke hand vryf oor sy skouer tot voor oor sy bors. Hy vat haar hand vas. Sy fladder met haar lippe teen sy linker oor. Sy sê iets, maar die intensiteit en haar asem in sy oor, lei sy aandag af.

“Uhm?”

“Ek sê.” Haar stemtoon val en die asemrige fladder lilppe druk harder teen sy oor. “Is jy lus? Kán jy?”

Hy kan die spot in haar stem hoor.

“Wat dink jy, Sonja?”

Hy draai om na haar toe. Sy stap agteruit, trek hom in die rigting van die stel.

“Jy weet jy is besig om my hele loopbaan in die wiele te ry, né?”

“Wie, ék?!” ‘n Onoortuigende slap hand druk teen haar bors.

“Jy het nog nooit so onoortuigend gelieg nie. As dit ‘n oudisie was, het jy nie ‘n call-back gekry nie.”

Sy lag met ‘n selfgenoegde tevredenheid.

“So nou is dit my skuld dat jy nie hierdie onskuldige, vroom vroutjie kan slaan nie?”

“Onskuldig? Vroom? Gmf!” hy snork verontwaardig.

“Kom hier dat ek jou kan kalmeer.”

“Ek kan net nie. Jy is net so… so…”

“Jy weet, as ek nie van beter geweet het of jou vrou geken het nie, sou ek sweer jy klink soos ‘n verliefde skoolseun.”

“Ek is nie! Ek… dis net… Ons albei weet tog hier kan niks van kom nie.”

“O, I beg to differ.”

Sy stap uitlokkend nader aan hom en soen hom fladderend in die nek. Haar hand is op sy gulp en druk aspris teen sy manlikheid.

“Ek is nie so seker hier gaan niks van… kóm… nie.”

Hy snak na sy asem.

“O Sonja. Ja…”

“Ja, wat?”

“Ja, slaan my.”

“Slaan my, wie?”

“Slaan my, asseblief, prinses Sonja Visser.”

“Uit! Uit met jou broek. Op jou knieë!”

Hy gehoorsaam met kort asemteue. Die opwinding bou op.

Sy gaan sit op sy rug en ry hom soos ‘n perdjie.

“Kom, my stallion. Op! Op!”

Sy lag weer as sy sien hoe hy sukkel om ‘n ereksie te kry.

“Slaan my asseblief!” pleit hy.

Die eerste hou weergalm deur die gebou. Hy sidder en runnik.

“Daar, daar, dis beter. So moet jy mos styf word.”

Die tweede en derde houe is harder en vinniger. Met die vierde begin sy onderlyf te ruk. Met die vyfde is daar ‘n kol op die verhoog.

“Daar, daar. Sien. Dis hoe mens dit doen.”

Sy klim van hom af en gooi ‘n sneesdoekie in sy rigting.

“CUT!”

“Wat de…? Wat is dit die? Wie is hier?”

“Niemand nie, jou idioot. Dis net ek. En my kamera.”

Sy stap in die hoek in en haal ‘n kamera van ‘n driepoot af, druk ‘n paar knoppies. ‘n Blikstem wat soos syne klink smeek om geslaan te word, die houe volg en dan runnik hy. Sonja gooi haar kop agteroor en lag histeries. Sy vou vooroor en moet aan ‘n stoel vashou om nie te swik nie. Sy druk ‘n paar knoppies en die runnik eggo weer deur die leë teater.  Marnus strompel vorentoe terwyl hy nog sy broek probeer vasmaak.

“Sonja, dis nie snaaks nie. Gee dit hier!”

Sy spring rats agter ‘n tafel in. Die kamera se kreune volg haar om die tafel soos sy van hom af wegtrippel.

“Sonja! Wat wil jy anyway daarmee maak?”

“Wel, ek het gedink. Siende dat ek nie laas jaar oorsee gereis het nie, kan jy my dalk Thailand toe stuur. Om te herstel. Jy weet. Van hierdie traumatiese verhouding. Siende dat jy nie jou vrou wil los nie en jy my hart gebréék het…”

Sy slaan haar hand dramaties teen haar hart en druk die agterkant van haar hand in gefeinste passie teen haar voorkop.

“Ek glo dit nie. Jou teef! Pers jy my af?!”

“Sjoe Marnus. Dis darem ‘n baie gemene ding om aan iemand te doen. Ek sal mos nooit só iets doen nie. Ek eis maar net… sal ons sê… ‘n bietjie kompensasie vir… dienste gelewer.”

“Dienste gelewer? Ek het nooit eers aan jou geraak nie!”

“Maar ek is sielkundig geskaad omdat jy my gedwing het om jou te slaan tot jy kom.”

“Gedwing?! Jy het dit uit vrye wil…”

“Jy is ‘n siek man, Marnus. En as ek dit vir jou vrou of vir die teater wys…”

“Jy sal nie!”

“Watch my.”

Hy buig oor die tafel en plant sy hande ver uitmekaar uit. Hy leun nader, staar na haar.

“En om te dink ek het van jou gehou. Régtig van jou gehou.”

Hy trek ‘n stoel uit, gaan sit en haal ‘n tjekboek uit sy sak uit.

“Hoeveel?”

Sy glimlag ingenome.

“Dertig.”

“Duisend?”

“Wat anders, Sherlock?”

Hy teken, skeur uit.

“Die memory kaart vir die tjek.”

“Deal.”

“Jy weet ek kan dit net by jou afvat en daarvan ontslae raak?”

“Ek weet jy sal nie aan my raak nie.”

Hy kyk met pleitende oë na haar.

“Asseblief Sonja. Dis onnodig. Niemand hoef hiervan te weet nie.”

Sy stap stadig nader. Haar heupe knak met elke tree. Haar kop rol uitdagend rond. ‘n Genoegsame glimlag trek aan haar mond. Sy hou ‘n hand met ‘n memory kaart uit na hom.

 

Hy kyk na die kaart. Hy kyk na haar rooi bek wat hom uitkoggel. Hy lig sy hand stadig op tot bokant sy skouer.

“Sláán haar!” weergalm dit in sy kop. “Dís jou line. Jy is die aggressor, word die doos!” skree dit deur hom.

‘n Kyk van onsekerheid flits oor haar gesig.

Sal sy pleit? wonder hy. Hoe sal dit voel as sy hand haar gesig tref? Elke aand. Sal dit brand?

Stadig laat sak hy sy hand. Hy vat die kaart uit haar hand uit.

Hy begin saggies te lag. “Slaan my nog net één keer? Toe?”

****

DIE AGGRESSOR SEëVIER 

Kaapstad. – Marnus Loubser het ‘n tweede toekenning ingepalm vir sy rol in die kontroversiële toneelstuk, Die Aggressor. Hy is gister deur die ATKV as beste akteur aangewys by díe jaar se glans Top Toneel toekennings. Hy speel teenoor Sonja Visser wat vroeër die maand opspraak gemaak het nadat sy gehospitaliseer moes word weens die fisiese vereistes van haar rol. Die rol is fisies en geestelik só uitdagend dat Visser weens uitputting en trauma inmekaar gestort het. Die Aggressor se speelvak is verleng met twee maande danksy die oorweldigende reaksie van gehore.

 

 

 

 

 

 

 

Sekte: ‘n Blou Job

Die godin stap verby. Lang, vloeiende krulle val oor haar skouers en jong, wulpse borsies. Twee seremonie bolle in elke hand. Hulle ritsel terwyl sy in die tonnel afstap om haar plek tussen die gemeente en die altaar in te neem. Die veertien ander goddelike wesens volg in gelid. Dieselfde hemelse perfeksie.

Nommer 8 kyk met goedkeuring agterna. As hy kon, sou hy self een wou offer. Die voorste een dalk. Hy stap na die voorbereidingslokaal. Hy neem sy plek in langs die ander jong mans. Hy sweet reeds. Klein druppeltjies glinster op sy voorkop. Hy vee dit met vier vingers af. Hy moet kalm bly. Hy moet fokus. Hy praat nie met die mans langs hom nie.

Hy trek sy kleed uit en hang dit versigtig op. Hy stroop af. Sy lyf sterk, ferm. Elke spier duidelik gedefinieer. Ure, dae, jare se toegewyde selfaflegging padkaart sy lyf. Hy maak sy oë toe en voel die koel ondergrondse lug van die beton bunker oor sy natgeswete lyf spoel. Dit speel deur die hare op sy lyf. Hy voel sy manlikheid roer. Dit is só heilig. Hierdie oomblik waarvoor hy sy lewe al wag. Die grootste eer. Hy onthou die trots in sy pa se oë toe hy hom groet. Die trane in sy ma s’n. Die knop in sy keel. ‘n Leeftyd se toewyding.

Hy begin stadig die ritueel. Broek. Sokkies. Skoene. En dan, laaste. Die bo-kleed. Hy knip die trane weg. Dis nou dit. Die einde én die begin.

“Staan nader.” ‘n Ouer man roep die jonges. Almal dra dieselfde blou seremonie kleed. Jy kan die spanning vóél.

“Ons het vandag ‘n heilige taak op hande. Maar julle is nie alleen nie. Jy hoef nie alleen daar op te stap en jouself te offer nie. Sáám is ons sterker. Sáám sal ons die magte oorwin. Sáám sal ons hulle verslaan en die grootste prys behaal. Die wêreldse dinge is niks. Geld, mag, vroue, aansien. Niks.”

Hy stop en kyk elke jong man in die oë. Hy wil seker maak hulle luister. Hulle verstaan en begryp.

“Níks kom by die eer van hierdie oomblik nie. Jy.”

Hy wys na die grootste jong man in die groep.

“En jy.”

Die jongman langs hom.

“En jy.”

Die drie knik met gepersde lippe.

“Julle. Die heilige drie-eenheid. Julle moet julle krag inspan en julle broers beskerm. Julle weet hoe. Julle ken die ritueel. Doen wat julle geleer is.”

Sy oë gaan af in die ry. Hy gaan staan voor ‘n skraler jongeling.

“Jy. Hou jou oog op die doel.”

Sy gesig is teen die jongman s’n. Sy neusvleuels bewe. Hy hou sy oë gevange. Jare se kennis flits tussen hulle. Vertroue. Hoop. Verwagtinge.

Elkeen kry ‘n laaste taak. ’n Laaste opdrag.

Die ouer man gaan staan laaste voor Nommer 8. Hy sit albei hande op sy skouers. Die ouer man moet opkyk na die lang man voor hom.

“Lei hulle. Jy is die gekose een. Dis jy in wie ons hoop lê. Dis jy wat die hoop van die duisende daar buite dra. Praat met hulle. Lei hulle na die doel en die hemelse prys sal ons s’n wees, my seun.”

Hy druk hom teen hom vas. Klop hom op die rug en stap weg in die rigting van die gemeente.

Nommer 8 stap voor. “Kom manne. Dis tyd.”

Almal stap in gelid. Ernstig. Gefokus. Intens bewus van die oomblik.

Hulle begin draf. Tel spoed op en begin hardloop. Na die lig aan die einde van die tonnel. Hulle bars uit op die heilige gras en die gemeente juig. Hulle sing. Hulle skree. Want hulle god het gekom.

Dit dreun.

“BLOU BULLE!”

Hello Kitty

Hello Kitty

Ek versamel hartjies. Ek hou van pienk en my beddegoed is alles Hello Kitty. My ma sê dogtertjies moet hulle rokkies mooi skoon hou en ek mag nie my nuwe pêntie met die hartjies vir die seuntjies by die skool wys nie. Elke oggend voor skool vleg sy my hare. Twee perfekte vlegsels. Ewe hoog. Middel paadjie so reguit asof dit met ‘n liniaal getrek is.

My ma slaan ons nie met die liniaal soos Ouma Betta nie. As ons stout is, vat Mamma ons na Pappa se ou studeer kamer en praat saggies met ons. Soos vandag. Sy praat van die Here en Jesus se hartjie wat so seer is en die sterretjie in my hart wat moet skyn en Pappa wat ons uit die hemel dophou. Ek kyk na die foto van ons gesin op sy ou tafel. Pappa en Klein Boeta is nog op die foto. Ek kyk by die venster uit en kyk of ek nie vir Strepies gewaar nie. Mamma begin huil en gaan lê met ‘n brandewynlappie op haar voorkop en sê ons moet buite gaan speel, sy wil rus. Ouma sê Mamma moet eerder die brandewyn drink, dan sal sy beter voel.

Ek klim op die dak en wag vir die duiwe of die katte om te kom rus. Ek hou nie van ons bure se kat nie. Hy skree my altyd wakker. Hy sing nie mooi soos die voëltjies voor my venster nie. Hy skree soos Klein Boeta toe hulle hom by die hospitaal gaan koop het.

Ek het vir hulle gesê hy is stukkend, hulle moet hom gaan omruil of terugvat, maar hulle het nie na my geluister nie. Dis eers toe Mamma hom op die grond voor die kôt gekry het, dat hulle hom met die hospitaal se waentjie kom haal het. Maar die mense daar wou hom nie omruil nie. Ek hoop hulle het ons geld terug gegee. Ek wil ‘n pienk fiets vir Kersfees hê.

Ek wag op die dak. Strepies kom aangesluip. Hy is duidelik lus vir duif. Hy sien my nie waar ek wegkruip nie. Ek het Groot Boeta se gun geleen. Ek moet nog net vir hom daarvan sê. Ek mik vir sy regter boud. Groot Boeta sê ek moet die metaal strepie deur die ogie pas en dán trek. Ek mik mooi. Die gun klikruk teen my skouer. Strepies lê stil op die dak. Ek kruip nader en bekyk die affêre. Daar is nie ‘n merkie op sy boud nie. Dalk het die koeël sy gaatjie getref? Ek lig sy stert op, maar sien niks. Ek vryf oor sy sagte pelsie. Die gemmer haartjies kielie my vingers. Ek kry die perfekte rooi kolletjie op sy agterkop. Swart druppels loop af en dam op die dak. Ek wonder of dit sal skoon reën?

Die groot kombuis mes is lekker skerp. Die lem gly maklik deur die vel. Die hartjie is kleiner as wat ek gedink het dit sou wees. Ek rol dit in my hande. Van die een na die ander. Dis só mooi.

Ek maak die blikkie oop. Ek maak ‘n plekkie langs die duiwe en hoender hartjies. Ek bêre die blikkie weer op sy geheime plekkie.

Ek wonder waar Mamma háár blikkie wegsteek.

Ek versamel hartjies.

Daar’s ‘n dronk engel op my mat

Drie engeltjies sit op my sitkamermat. Twee het gebreekte neuse en een sit op die verste hoek van die mat en hou my dop.

“Is julle orraait? Bly net hier. Ek bring ys.”

Ek hardloop na my vrieskas en begin verwoed laaie ooppluk. Al die ysbakkies is leeg na gisteraand se party. Ek gryp twee gevriesde steaks en slaan die deur toe.

“Hier. Druk dit teen julle neuse.”

Hulle neusies is fyn soos…wel… engel neusies. Dis soos jy sou verwag dit sal lyk. Fyn, sag, wit. Michael Jackson se wet dream.

My hand bewe liggies. Gisteraand was befok. Wat ‘n party. Maar die ouens sal nie glo as ek hulle moet vertel wat ek hier voor my sien nie. Ek was nog lekker in la-la land toe ek wakker skrik van ‘n moerse slag. Ek dog eers dis een van my tjommas wat weer iets omgedonner het. Ek het by my kamer uitgehol net in my onnie. En daar kry ek toe die twee engeltjies op my balkon. Uit soos ‘n kers. Die derde ene het histeries rondgefladder.

Ek het die glasdeur oopgeskuif en uitgestrompel.

“Wat de don…?”

“Wie is so simpel om ‘n force field reg in die middel van nêrens op te sit? Ek dink hulle is bewusteloos en iets is met hulle neuse verkeerd.”

Die histeriese engeltjie het bo hulle rondgefladder en verbouereerd beduie. Wat maak ‘n mens met twee lights-out engele.

“Nou wat wil jy hê moet ek daaraan doen?”

“Help hulle!”

“Kan jy nie jou towerstaffie swaai nie?”

“Ek is nie ‘n fokken fee nie, jou idioot.”

Histeries én onbeskof.

“Nou help my dan. Vat jy díe een se voete. Ek sal die arms vat.”

“Maya.”

“Wat?”

“Haar naam is Maya. En daai is Mietsie.”

“Nou toe. Help dat ons Maya binne kry. Dan kom haal ons vir Mietsie.”

Ek het nie gedink ‘n engel sal so swaar wees nie, maar hier lê hulle nou op my mat, elk met ‘n steak op die gesig. Hulle begin lewe kry.

“Wat is jou naam?” vra ek die histeriese engel. Sy is nou rustiger nadat ek vir haar ‘n glas whiskey gegee het.

“Martie.”

“Nou hoe vlieg julle dan so sleg?”

“Hoekom lyk jy so sleg?”

“Is julle nie veronderstel om super-powers te hê nie?”

“Is jy nie veronderstel om ‘n lewe te hê nie?”

“En is engeltjies nie suppose om nice te wees nie?”

“Verskoon haar. Sy is op parool.”

Mietsie het lewe gekry. Martie gee haar ‘n vuil kyk.

“Ons was juis oppad na haar dissiplinêre verhoor voor ons ongeluk.”

“Ja, ons moes haar oppas,” kom Mietsie ook by.

“Wat het jy gedoen?” vra ek die beskuldigde.

“Dit het niks met jou uit te waai nie.”

“Wat sy bedoel is, dis ‘n sensitiewe saak. Ons mag nie uitpraat nie,” sê Maya.

“Ek kan nogal verstaan. Die geloof ding se shares sal bietjie drop as hulle uitvind dis hoe julle engelkorps lyk. As jy na ons land kyk, lyk dit vir my of al die beskermengeltjies op strike is.”

Maya en Mietsie kyk ongemaklik vir mekaar. Martie sit op ‘n kussing in die hoek. Sy het ‘n paar van my ou Aviator sonbrille opgesit en speel nou met ‘n Afrika drom. Dis nie baie bevorderlik vir my hang-over of my geestestoestand nie. Om alles erger te maak, het ek ook begin nies van al die vere in die plek.

Ek staan op. Val amper oor ‘n bierbotteltoring en stap na die twee met die steaks op die gesig. Ek vryf my hande ongemaklik saam en trap rond. Hoe smyt ‘n mens drie engele uit?

“Sò… Is julle twee nou okay? Kan ek julle ‘n lift gee?”

“Ons is reg. Ons het nie ver om te gaan nie. Baie dankie vir jou hulp en gasvryheid,” sê Mietsie.

“Hulle sal nou-nou in die pad vál!” Martie snork soos sy lag.

Maya en Mietsie kyk vir mekaar. Dan kyk hulle baie skerp na my.

“Het jy haar iets gegee om te drink?!”

“Ja?”

“O liewe aardsengel. Wát?”

“Miskien net ‘n bietjie whiskey. Maar ek het nie geweet engele mag nie drink…”

“Ons mag drink, maar ons mag nie drink én vlieg nie. En dis waarvoor Martie voor die komitee moet verskyn. Ons kan haar nie so daar laat aankom nie. Dit sal klaar wees met haar én met ons!”

“Sy kan maar hier bly tot julle hulp ontbied. Ek gaan nêrens heen nie. Ek moet hierdie huis opfix, so ek sal ‘n oog gooi totdat julle terug is met backup. OK?

Hulle kyk onseker na mekaar.

“Nou goed. Dit sal seker nie lank vat nie.”

“En dankie. Vir die hulp en so.” Maya hou die stuk steak verleë na my toe uit.

“Dis niks. Anytime. Cheers. O, en gaan maar eerder hier by die voordeur uit.”

Die twee vlieg weg en hier sit ek met die dronk engel Martie. Sy het my DJ oorfone ontdek. Sy ruk ritmies op maat van een of ander beat. Sy het nog steeds die oorgroot Aviators op. Sy lyk soos ‘n wit tor met die oorfone en die brille. Hoe kry ek haar nou weer nugter?

“Wil jy koffie hê?”

Sy kan my nie hoor nie. Oë toe, wieg en sing. Hoekom sing mense met oorfone altyd so vrek vals?

“The drugs they say make us feel so hollow
We love in vain narcissistic and so shallow
The cops and the queers to swim you have to swallow
Hate today, no love for tomorrow
We’re all stars now in the….”

“WIL JY KOFFIE HÊ?!”

Haar oë vlieg oop.

“HOE SÊ?!”

Ek trek die oorfoon van haar oor weg.

“Ek vra of jy wil koffie hê?”

“Nee o liewe Gabriël. Dan is ek nou eers in die moeilikheid. Drank én kaffiëne. Dan’s dit neusie verby met my.” Sy giggel histeries

Get it? Neusie verby!”

“Ja-ja. Los nou maar jou neus uit hulle sake. Dit kan tog nie so erg wees nie. Wat is nou die ergste wat met jou kan gebeur? Hulle kan jou tog nie regtig uitskop nie?”

“Uh-uh.” Sy maak haar oë toe en ignoreer my. Sy begin weer saamsing.

Ek begin die leë bottels in ‘n sak gooi en maak al die sigaret bakkies leeg. Hoeveel mense was gisteraand hier? Dit lyk asof ‘n bom ontplof het. Glase en gemors oral. My kop is dof en dik. Die kombuis is ‘n nagmerrie. Ek wil nie eers weet hoe die badkamer lyk nie.

“…sit dit af, sit dit af
lala la lala laaaa
sit dit af, sit dit af
lala la lala laaaa
want dis ‘n helse straf…”

Sy sing uit volle bors. Nee, net nie die drom ook nie. Ja, sy het die drom ook weer ontdek. Ek gaan dit nie hou nie. Ek hoop die ander twee kom gou terug om haar hier weg te sleep.

My wens word omtrent onmiddellik beantwoord. Die voordeurklokkie lui. Ek strompel deur toe en daar staan die twee. Hulle ogies is rooi en hulle neuse rooier. Hulle lyk verwese en verleë.

“Ons het nuus.”

“Kom in, kom in.”

Hulle kyk met groot oë na Martie wat steeds uit volle bors sing en vreeslik entoesiasties en uit ritme die Afrika drom bydam.

“Haar verhoor het toe in absentia plaasgevind. Hulle het besluit… bevind… sy is skuldig.”

“Gaan hulle haar uitsmyt?”

“Ja…”

“No way!”

“Mits…”

Die twee kyk weer onseker na mekaar.

“Kan sy appeal?”

“Mits…sy híér bly tot albei van julle beter is.”

“Híér?!”

“Die raad het bevind dat sy net kan terugkom as sy hier aansterk. So… Ons sal terug wees oor ‘n maand om die situasie te kom evalueer.”

“Maar…nee…julle kan nie…uhhhh…kom terug!”

Voor ek kan keer is hulle by die deur uit en weg. Ek weet nie meer wat aangaan nie. My kop pyn van die inspanning en die dromme en Martie wat so flíppen vals sing.

Vir ‘n rukkie raak dit stil. Die lug is soet en bekend. Ek loer bekommerd om die deur. Martie lê verkeerd om op die rusbank met haar bene oor die ruglening en haar kop hang onderstebo van die sitplek af. In haar hand het sy ‘n zol. Rook kruip lui by haar mond uit. Sy vang my oog en glimlag breed. O donner.

“Martie! Gee hier.”

“Ek deel graag.”

Ek vat die skyf uit haar hande uit. Voor ek dit dooddruk, oorrompel die soet reuk my. Ek kan dit darem ook nou nie mors nie. Ek vat ‘n lang, diep trek. Dis net wat ek nodig gehad het. Al die blerrie tension. Ek gaan sit langs haar. Vir die eerste keer die oggend is die woonstel stil. Dis net ek en ‘n engel op my bank. Ek kyk af na haar. Sy is pragtig. Soos… soos in gorgeous. Maar nie soos in spyker mooi nie. Daar is iets… hoe sal ek dit stel? Okay, kom ons wees nou maar corny, hemels aan haar. Ek weet nie hoe om dit anders te stel nie. Sy lê daar met die belaglike sonbril op haar gesig en die oorgroot oorfone op haar kop, en sy gloei. Sy straal van léwe.

“Moenie so na my staar nie. Is jy ‘n creap? Hulle sou my darem seker nie by ‘n pedo gelos het nie. Of ek weet ook nie aldag met daai twee nie. Hulle is nie die brightste sterretjies in die heelal nie. if you know what I mean. Ek is ook maar bly ek kan bietjie hier afpak. Toe. Gee aan.”

“Mag jy die goed rook? Sal jy nie in meer moeilikheid kom nie?”

“Nee wat. Almal gebruik dit om sane te bly. Jy verstaan nie watse job dit is om julle te beskerm nie. En jy. Jy!”

Sy vat nog ‘n diep trek.

“Jy is die ergste.”

“Wat bedoel jy?”

“Dis jou skuld dat ek lyk soos ek lyk.”

“Wag nou ‘n bietjie. Jy kan nie vir my die skuld gee vir jou moeilikheid nie.”

“Hoekom dink jy lyk ek soos ek lyk? Jy is my case.”

“Jou case?”

Jy is my case, my broer. Wie dink jy het jou gisteraand gekeer dat jy nie van die balkon afval nie? Wie dink jy het jou ná laas week se party by die huis gekry toe jy na ‘n bottel Jack huis toe bestuur het? Wie het jou uit die swembad gekry toe jy by die pool party in die water uitgepass het? Wie het jou voor daai BMW uitgeruk toe jy oor die pad geslinger het na daai twenty first? Wie…”

“Dit was jy?!”

“Wie anders?”

“Maar hoekom… ek bedoel… die verhoor?”

“Hulle gee vir my die bliksem van Kaapstad en dan wil hulle my verhoor omdat ek één aand net nie meer kon nie. Ek het hier kom lê. Op díe bank en al julle leftover booze klaargemaak. Ek het net gedink. Regtig. Is dit dít? Moet ek vir die res van my lewe agter díe stuk stront aan hardloop en sy kastaiïngs uit die vuur krap.”

“Hey, dis darem nie só erg nie.”

“Hoe sal jy weet? Jy is helfte van die tyd te dronk of te high om te weet wat met jou gebeur. So hoe sal jy weet?”

“Ek het nie besef…”

“Nee, jy het nie. So, give me a break en gee daar nog ‘n skyf.”

Vir die eerste keer in my lewe weet ek nie wat om te sê nie. Sy lê terug en teug diep. Haar kop rol agteroor en sy smile. Ek staan op en stap kombuis toe. Die glase en bottels staar na my. Ek begin was en was en was. Waar kry ek al die glase? Dit vat vier trips na die dumpster toe om al die vuilgoed weg te gooi. Ek gaan stort en trek skoon aan. Sou sy honger wees? Ek weet nie wat engele eet nie, maar as ek moet raai, sal sy eet wat ek eet.

Ek stap in die sitkamer in. Sy lê met haar oë toe. Sy snork liggies. Ek haal die verspotte bril en die oorfone af. Ek haal haar voete van die lening af en lê haar gemaklik neer, kry ‘n kombers uit die kas en maak haar toe. Sy word nie wakker nie. Sy is so moeg.

Ek vat die eier en koffie terug kombuis toe. Ek sal ander maak wanneer sy wakker word.

Voor die bank, op die mat lê daar ‘n halwe bottel Jack en ‘n veer. Ek tel die veer op en druk dit in my hoed.

Griekwastadpsalm

Griekwastadpsalm

Dis ‘n Goeie Vrydag. Sy hand sak stadig teen my rug af. Suid. Baie stadig. Sy hand rus liggies teen die waai van my rug. Veerlig en subtiel. Ek wil wegvlug en uit sy handkring draai en net loop. By die deur uit, links na die dam toe, om die groot doringboom. Dan sal ek begin hardloop. Sonder om om te kyk. Verby die pomphuisie, deur die lusernlande, deur die perde kamp. Dan sal ek oor die riviertjie spring, van klip tot klip, anderkant droogvoets uitkom en ek sal stadiger draf. Tot by my huisie. Nee, nie die strooidak huisie nie. Hy weet dis my plek. Ek sal van die riviertjie af draf tot… tot… Ek weet daar is ‘n plek. Daar móét tog ‘n plek wees waar ek net kan wees. Ouma s’n. Nee, hy sal my daar kom soek.

Sy hand vou om my heup en trek my nader aan hom. Ek staan met my hande om die koeldrankglas gekelk sodat ek nie aan hom hoef te vat nie. My elmboog brand teen sy sy. Hy staan met sy heup agter myne. Ek beskermend en liefdevol onder sy arm ingekruip volgens Die Mense. Gevange, volgens My. Ons lyk soos die gelukkige broer en suster waarin mense wil glo. Ek speel saam. Glimlag vriendelik. Knik instemmend. Luister aandagtig. Maar my kop soek ‘n plek.

Sy hand sak steeds laer. Oor my boud. Liggies, voel-voel. Klein sirkeltjies. Hy meet en voel, vir later. Berei die teiken voor. Eers sag maak. Ek knyp my boude saam. Sy hand stop. Sy vingers waaier oop en vat hard. Hy hou van die reaksie. Ek praat met Mev. Barnard oor haar kind se doop. Ag oulik. Hoe fraai! My broer se hand is op my gat. En wie maak die handtertjies? Die hele familie? Dis darem ‘n seën. Hy trek my rok agter op. Na wie word sy vernoem? Ag, maar Tannie is darem seker ‘n trotse Ouma. Hy gaan staan agter my en vou sy hande voor om my. Jou dooprok? Hy leun teen my aan. Hy is hard. Wie bring haar in? Ag, is dit nie wonderlik nie. Verskoon my tog asseblief Tannie, verskoon ek myself.

Ek hardloop nie. Al wil ek. Ek stap rustig by die deur uit. Draai links dam toe. Loop verby die doringboom. Ek begin hardloop. Ek moet weg hier. Ek moet my gaan reinig by waters waar daar rus is. Verby die pomphuisie, deur die lusernlande, deur die perde kamp. Ek hoor sy voeteval agter my in die paadjie. Die vallei van doodskaduwee omsingel my. Ek hardloop met klere en al deur die rivier. Die groen weivelde wink aan die oorkant van die wal. Hy is amper by my. Die donker dieptes trek my af. Ek moet anderkant uit. Weg van die huis met sy feesmaal. Weg van hulle wat my moes beskerm. Ek strompel uit op die oorkantste wal. Ek struikel. Hy is by my. Daar is geen maan en geen son. Dis skemer. Hy druk my vas. Sy oë is my oë. Ek kyk op na die berge.

Hy skiet my eerste.

Clivia Chatroom

Clivia Chatroom

< Fleur > Hi Mense. Ek is nuut hier en wil net myself voorstel.

< Katie D >  welkom Fleur dis ‘n mooi naam

< Forest Fairy > a new face

< Katie D > waar kom jy vandaan

< Fleur >  Knysna. Hoe werk dinge hier? Ek het nog nooit in een van die chatrooms beland nie, maar ek is nou moeg gesoek.

< Forest Fairy  > tell me about it

< Jim’s Peach > hi Fleur new here sien ek. dit werk soos die lewe – wat jy insit is wat jy uitkry😉

< Lunar Smile > wat soek jy presies

< Fleur > Ek is opsoek na ‘n mooi Clivia wat oor so ‘n week sal blom.

< Sky Chase > lol I like her draai nie doekies om nie

< Katie D > ek laaik dit sy’s hot soos jy sky

< Sky Chase > keep trying katie DD😉

< Katie D > eendag

< Sky Chase > Fleur, hier blom hulle heel tyd

< Forest Fairy > we can help love

< Pat’s Gold > wat is jou tipe?

< Fleur > Wel, ek het gewonder of julle Nakamura of Daruma Mirabilis het nie?

< Jim’s Peach > WTF?

< Katie D > dis seker die orientals?????!!!

< Lunar Smile > gaan na die japanees site vir daais

< Pat’s Gold > just be careful I hear hulle gebryk sometimes daai mixers van athlone dan skiem jy hulle oriental

< Jim’s Peach > is true ek is ‘n witnis!

< Pat’s Gold > amazing wat ‘n wig en make up nie kan doenie

< Sunset Donna > heya what did I miss

< Katie D > ons het ‘n visitir

< Lunar Smile > Fleur is op soek na Clivia

<  Sunset Donna > kennie is it the new one on the block

< Lunar Smile > klink kinky into oriental

< Fleur >  As julle nie van daardie het nie, is dit ook reg. Wat van Giant Peach? Hulle is tog so geurig.

< Cameron Peace > nog nooit van gehoor nie en ons ken almal hier

< Katie D > miskien deel van die ukraine ring

< Sunset Donna > never heard of giant peach. ons het een gehad met die naam white lips

< Lunar Smile > ek onthou ha!!!!!!!! sy was’ie most popular. altyd uitgestock. but i can tell you daar was niks geurig aan haar flowa nie trust me!!!!

< Pat’s Gold > O.M.G!!!!!!!!

< Cameron Peace > T.M.I.

< Sunset Donna > hoe weet jy?!

< Lunar Smile > sweet<3 sometimes i had to tag along vir ‘n rent a crowd

< Fleur > Hartjie, ek koop nie op groot maat nie. Dit net vir die potte op my stoep.

< Jim’s Peach > oupa en ouma sit oppie stoep

< Katie D > respect! sy’s die old age home se go-to girl

< Forest Fairy > ah now I get it!!!!

< Katie D >  ek het nourie dag vd eerste keer met so ‘n go-to girl vir die ou mense gewerk, hulle doen goed. pimp a granny. 

< Sunset Donna > LOL

< Fleur > Wag. Ek dink hier is ‘n misverstand. Ek lol met niemand nie en ek werk nie met ou mense of ‘n kwekery nie. Ek is self-employed!

< Sunset Donna > ons almal is

< Fleur > Wat dan van Gladys Blackbeard?

< Katie D > praat jy van Gladys met die brazilian of die full face? sy gaan deesdae onder Candice G.

< Jim’s Peach > o ek ken daai een not bad

< Forest Fairy > yes! sys die een wat specialize in golden showers

< Fleur > Ek verkies summer showers.

< Forest Fairy > oh is that new? ek kennie daai enie

< Cameron Peace > o ek dink ek weet. dis soos die golden shower maar dit hettie somer se donderweer by. if you know what I mean! so jy moet baie beans eet voor die tyd …

< Forest Fairy > vastaan ek djou reg? ‘n golden shower met ‘n skoot?!

< Sunset Donna > mense is siek!

< Cameron Peace > don’t judge!

< Fleur > Julle, ek is nie seker ek verstaan alles nie. Ek soek net één bos. Enige soort. Sê net as julle nie kan help nie, dan probeer ek elders. Ek is mál oor Clivia’s. Ek gee nie om of hulle ‘n geurtjie het of nie en dis beskut teen die showers. En as julle net bolle het, is dit ook okay.

< Forest Fairy > girrrrrl gee my net ‘n week and I’ll give you a bush

< Jim’s Peach > bolle?! I knew it, you swing both ways

< Katie D > Fleur het jy ‘n webcam?

< Fleur > Ja?

< Katie D > sit dit aan dan wys ons jou wat ons het, ek het ‘n paar hier by my. jy kan kies en dan deliver ons, of jy kan sê waar jy wil ontmoet if you want to be discreet

< Fleur > O dis ‘n goeie idee. Baie dankie julle. Julle is so behulpsaam. Chatrooms is die béste! Ek sal julle laat weet wanneer my Clivia blom. Ek skakel dan nou my webcam aan, hoor?

< Katie D > hoop jy is gereed Fleur. hier is ‘n paar bosse en bolle wat wag om te blom

< Jim’s Peach > kan ek watch?! please!

< Sky Chase > wens ek was ‘n ou muurblomkie teen Fleur se muur

< Katie D > waar is jy, Fleur. ons kry frostbite die kant

< Fleur > Ek kóm!

(Alle name in die storie is bestaande Clivia variante se name.)