Sweet soos ‘n Arend
Hi. My naam is Berta en ek is gay. Ek hou nie van die woord lesbian nie. In fact. Ek is nie ‘n baie goeie lesbian nie, en goddank nie die titel werd nie. Die gay gemeenskap oorweeg dit sekerlik om my lidmaatskap terug te trek. Ek dink as hulle kon, het hulle my reeds lankal verban na die heteroseksuele kant van die buurt.
Sien. Sprekende voorbeeld.
Exibit A. Ek kan praat van kant sonder om te giggel.
Ek hou nie van P!nk, die sanger nie en ek hou baie van pienk, die kleur. My grootste droom is nie om ‘n bakkie te besit of saam met like-minded mense (lees ander gay vroue) deur Afrika te toer nie.
Ek hou nie van honde nie en katte laat my juk. Ek het nog nooit in my lewe ‘n fiets besit nie en ek het geen begeerte om vir 8 ure op een te sit en saam met miljoene ander ryers Suikerbossie uit te trap of uit te stoot en ná die tyd foto’s van my seer onderstewe op Facebook te plak en te maak asof dit lekker was nie. Motorfietse maak my bang.
Ek het nie ‘n funky haarstyl nie. My gesig is te rond vir kort hare en my slierte hang nie in mooi lang lokke om my bakore weg te steek nie. Ek dra nie grimering nie. Dit laat my juk.
Noem vyf gay kunstenaars?
Die enigste een wat ek nou vinnig aan kan dink is seker Laurika Rauch.
Sy’s nie gay nie? Maar sy het so ‘n diep stem…
Getroud, sê jy? Gmf. Wie sou nou kon raai.
Wel, in daai geval, seker maar Annelie van Rooyen? Ek het nog steeds ‘n crash op haar. As ek depressed is, sit ek Sweet soos ‘n arend…
Hoe sê jy?
Sweef. Met ‘n F? Nie sweet nie? Wil jy nou meer.
Wel, as ek depressed is, sit ek Sweefffff. Soos ‘n arend op die draaitafel. En as ek die dag nie uit die bed kan opstaan nie, dan leopard crawl ek tot by die platespleler en sit Ek lewe op. Ek bly dan sommer daar lê en fantaseer oor hoe ek myself gaan doodmaak. Maar dan gryp Annelie my aan my hartspunte en sleep my uit die dieptes. Toemaar. Ek is fine. Ek het nie die gutts om dit regtig te doen nie. Maar dis nogal ‘n lekker speletjie om te speel om te fantaseer hoe ek myself vankant gaan maak. Ek sal nie soos Sheila Cussons in die see kan inloop en myself verdrink…
Ingrid? Is jy seker? Was dit nie Sheila nie?
Ek kan nie swem nie, so dit sal in elkgeval nie werk nie. En ek kan nie eers ‘n braaivleisvuur aansteek nie. So, vlamme is ook uit.
Exibit B. Ek is nie kwaad nie. Ek hou van mense. Álle mense. Okay. Behalwe Piet Wiele wat my kar se wiele geslice het. Maar hy is weggevat Kaap toe. Glo in een of ander inrigting op die oomblik. So, nee. Ek hou régtig van mense. Hulle moet net nie tussen 11am en 4pm kom klop nie. Dan slaap ek. En tussen 4:30pm en 7:30pm kyk ek my sepies.
Ellen wie?
De Generes? Is sy Rooms? Ek behoort aan die NG Kerk. Ons glo mos nie eintlik aan die maagde en die goed nie.
Ek het nie ‘n cool coming out-storie nie. My Pa is lief vir my en my ma is die een wat my op die bank sit-gemaak het en vir my vertel het ek is gay nadat sy my en Lien bo-op mekaar betrap het waar Lien my gewys het hoe haar nefie haar altyd vasdruk. Ek het ‘n happy childhood gehad en die buurman het met niks anders as my hare gespeel nie. Wat ook weird was, want hy kon regtig baie mooi Franse-vlegsels maak. Ek het nie boom geklim nie. Dit het my laat juk.
Ek het nie hokkie gespeel nie. Ook nie netbal nie. Actually. Ek het nie aan sport deelgeneem nie. As ek te veel sweet, juk ek.
Die toneel-juffrou het my darem die souffleuse van die dramagroep gemaak. Tot sy uitgevind het, ek hakkel as ek stres. Maar toe is ons in elkgeval al op die toer.
Sharon het my in die ou projektor-kamer vasgedruk en gesoen. Hein het agter in die bus langs my gesit en sy hand onder my rok ingedruk. Ek het hom nie gekeer nie. Toe vat hy aan Sharon se hand – wat ook onder my rok was. Sharon het my nie weer vasgedruk nie. Ek is saam met Hein matriekafskeid toe.
Ja, en toe’t ek by SARS begin werk. Dis nogal lekker. Jy moet ‘n méns-mens wees om daar te kan werk. Ja, syfers is okay. Hulle het my op ‘n paar kursusse gestuur, wat lekker was. Darem so bietjie uit die dorp uit gekom. En toe’s ek na ou Mister Forbbs toe en het sy boeke gedoen, maar hy is toe mos net die volgende jaar dood, so toe is ek apteek toe. Nee, ek het nie daar gewerk nie. Ek het gaan pille koop. Om selfmoord te pleeg, maar ek het net vir drie dae aanmekaar geslaap en baie dors wakker geword. En dis toe dat ek die werk by die kerk gekry het. Skriba. Dis nie bad nie. Ek haat kleingeld, maar jy raak gewoond aan kollekte tel. En dié jaar het ek plek gekry in die Kersspel.
Nee, nie as souffleuse nie, snaaksie. Ek is actually ín die play. Ek is die engel wat die goeie boodskap bring.
Die orreliste sê ek het mooi oë en ek hoef nie te sing nie. Toe kry ek die rol.
Ek voel nie jammer vir myself nie. Dis net. Dis moeilik om ‘n minority in ‘n minority-groep te wees.
En dis dit.