Grondig

“Die plaas is verkoop.”

Hy vat ‘n sluk van sy koffie en staar na ‘n storie op bladsy 3. Daai stadsklonge is toe uit op parool.

“Pa? Het Pa gehoor wat ek sê?”

Hy blaai om en skud die koerant se kreukels reg. Dalk doof dit die gebrabbel van sy jongste dogter uit. Dalk sal sy weggaan.

“Pa! Ek sê. Die plaas. Die plaas is verkóóp!”

Sy gaan nie weggaan nie. Hy laat sak die koerant en kyk na sy meisiekind.

“My jene my kind. Dis nie nodig om te skree nie. Ek is nie doof nie.”

“Ek… Skies Pa.”

“Hoe lyk dit dan met ‘n koppie koffie? Mens sal ook doodgaan van die dors in die huis.”

Winnie sit met haar hande in haar skoot. Sy hou op vroetel en kyk na die ou man voor haar. Wat het van die sterk man geword? Wat het van die man geword wat die lewe laag getackel het, skouer eerste, kop af, voluit? Die plaas was sy lewe. Dit was háár hele lewe. Dis haar grootword plek. Dis waar die herinnering aan haar ma die varsste lê.

“Ek sal gaan maak Pa.”

Hendrik Stofberg sit met die koerant op sy skoot. Hy hou op met lees en kyk na die jong vrou voor hom. Wat het van die dogtertjie geword? Wat het van die sproetneus geword wat kaalvoet die wêreld tegemoet gehardloop het, altyd gelag het? Die plaas was haar lewe. Die plaas was sy einde. Dis waar Liesbet se spook hom elke dag kom opkerf het.

“Dankie, my kind. Nie so baie melk nie, asseblief.”

“Ja Pa.”

Sy sit die ketel aan. Sy druk haar kop teen die kombuiskas en maak haar oë toe. Sy kap haar kop ritmies teen die kas terwyl die trane teen haar nek afloop. As sy ‘n seun was, sou dit anders gewees het. Sy sou nou geboer het. Al haar notas en planne vir nuwe boorde en gewasse sou op sy ou lessenaar gelê het, gereed vir geboorte. In plaas daarvan maak sy koffie in ‘n aftree-oord vir ‘n ou man wat soos haar pa lyk.

Hy maak weer die koerant oop. Hy moes dit al lankal gedoen het. Hy moes al lankal die plaas verkoop het. Met die vorige droogte al. Voor Liesbet siek geword het. Hulle sou dan kon gaan toer het. Sy wou altyd so graag Ysland toe gegaan het. Maar in plaas daarvan het hulle vrugtevlieë, hael, droogte en die vrugteraad beveg. Hy kyk om hom rond en sien sy klein plekkie sonder spoke. Hy sit sy voete op die rusbank, maak sy oë toe en sug verlig. Hy het hom voorgeneem hy sal geen kind van hom forseer om te gaan boer nie. Hy sal nie aan hulle doen wat sy pa aan hom gedoen het nie. Hy sal hulle hul vryheid gee.

Sy dra die skinkbord in die sitkamer in. Haar oë is rooi. Haar hande bewe.

“Hiersô Pa. Ek sit sommer hier neer.”

“Dankie my kind.” Hy gooi suiker in en kyk uit op sy klein tuintjie sonder vrugte vlieë en besproeiïng.

“Ek weet nie of jy gehoor het nie?”

“Wat Pa?”

“Die plaas is toe mos verkoop.”

 

Lewer kommentaar