Sweet soos ‘n Arend

Sweet soos ‘n Arend

Hi. My naam is Berta en ek is gay. Ek hou nie van die woord lesbian nie. In fact. Ek is nie ‘n baie goeie lesbian nie, en goddank nie die titel werd nie. Die gay gemeenskap oorweeg dit sekerlik om my lidmaatskap terug te trek. Ek dink as hulle kon, het hulle my reeds lankal verban na die heteroseksuele kant van die buurt.
Sien. Sprekende voorbeeld.
Exibit A. Ek kan praat van kant sonder om te giggel.
Ek hou nie van P!nk, die sanger nie en ek hou baie van pienk, die kleur. My grootste droom is nie om ‘n bakkie te besit of saam met like-minded mense (lees ander gay vroue) deur Afrika te toer nie.
Ek hou nie van honde nie en katte laat my juk. Ek het nog nooit in my lewe ‘n fiets besit nie en ek het geen begeerte om vir 8 ure op een te sit en saam met miljoene ander ryers Suikerbossie uit te trap of uit te stoot en ná die tyd foto’s van my seer onderstewe op Facebook te plak en te maak asof dit lekker was nie. Motorfietse maak my bang.
Ek het nie ‘n funky haarstyl nie. My gesig is te rond vir kort hare en my slierte hang nie in mooi lang lokke om my bakore weg te steek nie. Ek dra nie grimering nie. Dit laat my juk.
Noem vyf gay kunstenaars?
Die enigste een wat ek nou vinnig aan kan dink is seker Laurika Rauch.
Sy’s nie gay nie? Maar sy het so ‘n diep stem…
Getroud, sê jy? Gmf. Wie sou nou kon raai.
Wel, in daai geval, seker maar Annelie van Rooyen? Ek het nog steeds ‘n crash op haar. As ek depressed is, sit ek Sweet soos ‘n arend…
Hoe sê jy?
Sweef. Met ‘n F? Nie sweet nie? Wil jy nou meer.
Wel, as ek depressed is, sit ek Sweefffff. Soos ‘n arend op die draaitafel. En as ek die dag nie uit die bed kan opstaan nie, dan leopard crawl ek tot by die platespleler en sit Ek lewe op. Ek bly dan sommer daar lê en fantaseer oor hoe ek myself gaan doodmaak. Maar dan gryp Annelie my aan my hartspunte en sleep my uit die dieptes. Toemaar. Ek is fine. Ek het nie die gutts om dit regtig te doen nie. Maar dis nogal ‘n lekker speletjie om te speel om te fantaseer hoe ek myself vankant gaan maak. Ek sal nie soos Sheila Cussons in die see kan inloop en myself verdrink…
Ingrid? Is jy seker? Was dit nie Sheila nie?
Ek kan nie swem nie, so dit sal in elkgeval nie werk nie. En ek kan nie eers ‘n braaivleisvuur aansteek nie. So, vlamme is ook uit.

Exibit B. Ek is nie kwaad nie. Ek hou van mense. Álle mense. Okay. Behalwe Piet Wiele wat my kar se wiele geslice het. Maar hy is weggevat Kaap toe. Glo in een of ander inrigting op die oomblik. So, nee. Ek hou régtig van mense. Hulle moet net nie tussen 11am en 4pm kom klop nie. Dan slaap ek. En tussen 4:30pm en 7:30pm kyk ek my sepies.
Ellen wie?
De Generes? Is sy Rooms? Ek behoort aan die NG Kerk. Ons glo mos nie eintlik aan die maagde en die goed nie.

Ek het nie ‘n cool coming out-storie nie. My Pa is lief vir my en my ma is die een wat my op die bank sit-gemaak het en vir my vertel het ek is gay nadat sy my en Lien bo-op mekaar betrap het waar Lien my gewys het hoe haar nefie haar altyd vasdruk. Ek het ‘n happy childhood gehad en die buurman het met niks anders as my hare gespeel nie. Wat ook weird was, want hy kon regtig baie mooi Franse-vlegsels maak. Ek het nie boom geklim nie. Dit het my laat juk.

Ek het nie hokkie gespeel nie. Ook nie netbal nie. Actually. Ek het nie aan sport deelgeneem nie. As ek te veel sweet, juk ek.

Die toneel-juffrou het my darem die souffleuse van die dramagroep gemaak. Tot sy uitgevind het, ek hakkel as ek stres. Maar toe is ons in elkgeval al op die toer.
Sharon het my in die ou projektor-kamer vasgedruk en gesoen. Hein het agter in die bus langs my gesit en sy hand onder my rok ingedruk. Ek het hom nie gekeer nie. Toe vat hy aan Sharon se hand – wat ook onder my rok was. Sharon het my nie weer vasgedruk nie. Ek is saam met Hein matriekafskeid toe.

Ja, en toe’t ek by SARS begin werk. Dis nogal lekker. Jy moet ‘n méns-mens wees om daar te kan werk. Ja, syfers is okay. Hulle het my op ‘n paar kursusse gestuur, wat lekker was. Darem so bietjie uit die dorp uit gekom. En toe’s ek na ou Mister Forbbs toe en het sy boeke gedoen, maar hy is toe mos net die volgende jaar dood, so toe is ek apteek toe. Nee, ek het nie daar gewerk nie. Ek het gaan pille koop. Om selfmoord te pleeg, maar ek het net vir drie dae aanmekaar geslaap en baie dors wakker geword. En dis toe dat ek die werk by die kerk gekry het. Skriba. Dis nie bad nie. Ek haat kleingeld, maar jy raak gewoond aan kollekte tel. En dié jaar het ek plek gekry in die Kersspel.
Nee, nie as souffleuse nie, snaaksie. Ek is actually ín die play. Ek is die engel wat die goeie boodskap bring.
Die orreliste sê ek het mooi oë en ek hoef nie te sing nie. Toe kry ek die rol.
Ek voel nie jammer vir myself nie. Dis net. Dis moeilik om ‘n minority in ‘n minority-groep te wees.
En dis dit.

1 mm ver van verlossing

Die mat kielie my kaalvoete. Die kamer se lug is koel teen my kaal borste. Die lessenaar blink steriel skoon. Behalwe vir ‘n pen, ‘n leerdagboek en ‘n lamp wat netjies gerankskik lê, liniêr in verhouding met mekaar. Ek haal diep en rustig asem. Ruik die skoonmaak produkte, gemeng met leer en handreiniger. Ek loop stadig om die lessenaar en trek ‘n vinger oor die blad soos oor die maag van ‘n geliefde, los ‘n spoor van my besoek. Ek gaan sit op die tafel, kruis my bene en vou my hande oor my knieë. Ek vryf my gladgeskeerde bene ingedagte terwyl ek die kamer verken. Sy heiligdom. Die mure gevly deur rakke boeke en nóg boeke.

Elke rak is alfabeties gerangskik. Volgens genre natuurlik. Rug aan perfekte rug. Afgemeet en in gelid. Afgemeet en presies. Met ‘n liniaal, vermoed ek.

Ek voel hoe hy na my kyk, met afkeuring en paniek. Die angstigheid sal hom lighoofdig maak omdat hy geen beheer het oor my nie. Geen beheer het oor my onbeheersdheid. Geen mag, geen sê. Want dis net ek hier. Hier in sy tempel.

My hart begin opgewonde te klop. Ek pers my lippe saam in ‘n poging om nie hardop te lag nie. My tone krul en die hitte van my afwagting kruip tussen my bene op.

Ek gly van die lessenaar af. Die koue blad teen my kaal boude laat my vir ‘n oomblik na my asem snak. Nóg ‘n streep van onthou op die blink blad.

Ek stap verby die rakke vol boeke wat hy seker almal twee keer gelees het. My vingers skoenlapper teen die rugkante van die boeke. Vlinder oor leer en papirus.

Ek streel die A’s tot anderkant Adler se What life should mean to you. Ek fladder verby die B’s tot by Covey se 7 Habits, waaier tot by Jung se Memories, dreams, reflections. My hand dartel oor die Pelzer’s en Piaget’s tot by Schreiber se Sybil. Ek stop. Stap stadig agteruit en vee met die rugkant van my hand alfabeties agteruit tot by F. Ek vinger Freud uit sy perfek afgemete staanplek. Ek trek hom stadig uit. Wikkel, wikkel tot hy stadig uitgly. Versigtig. Nie oorhaastig nie. Net ‘n bietjie. 1 mm is al wat ek nodig het.

Ek tree terug en bekyk my handewerk. Niemand sal agterkom iets is uit plek uit nie. Behalwe hy. Dit sal sy aandag aftrek terwyl hy agter sy lessenaar sit en obsesseer oor waar ek is en wat ek doen. Sonder dat hy sy vinger daarop kan lê, sal iets aan hom kom karring en knaag. Sal sy brein skaaf en skaaf tot hy die klip in die skoen kan opspoor.

Ek stap na die portrette agter sy lessenaar. Escher op Escher. Oneindige trappe wat klim en daal en in hul self ineenstort. Oor en oor en oor. Tot in ewigheid. Ek dink die titel is Infinity, het hy gesê. Gepas. Visse wat voëls word en wegvlieg terwyl dit terug swem. Wit op swart. Nes hy. Ek druk onder die regter hoekie van ‘n portret. Dit roer skaars. Miskien 2 mm. Dis te veel. Ek druk weer af op die linkerkantste boonste hoekie. 1 mm. Net genoeg. Vlieg in jou moer. Tot in ewigheid.

Ek gaan lê op die rusbank om my asem terug te kry. Ek vryf oor my maag en borste terwyl ek my pad van verwoesting aanskou en ek gloei. Gloei van die mag wat ek terugeien. Gloei van genoegdoening. Dronk van ek wees in sy wees. My hand vee oor die Persiese tapyt voor die bank. Ek herrangskik een fraiing. Daardie Turkse vakansie was in elkgeval ‘n frats. Ek los ‘n natkol op die bank en staan op.

Ek stap deur toe. Kyk vir oulaas terug oor sy geskende domein. My afskeidsgeskenk aan hom. Aan my. Ek sit die lig af en trek die deur toe.

En stap kaal by die voordeur uit, in my moer in. Tot in ewigheid.

 

 

 

Grondig

“Die plaas is verkoop.”

Hy vat ‘n sluk van sy koffie en staar na ‘n storie op bladsy 3. Daai stadsklonge is toe uit op parool.

“Pa? Het Pa gehoor wat ek sê?”

Hy blaai om en skud die koerant se kreukels reg. Dalk doof dit die gebrabbel van sy jongste dogter uit. Dalk sal sy weggaan.

“Pa! Ek sê. Die plaas. Die plaas is verkóóp!”

Sy gaan nie weggaan nie. Hy laat sak die koerant en kyk na sy meisiekind.

“My jene my kind. Dis nie nodig om te skree nie. Ek is nie doof nie.”

“Ek… Skies Pa.”

“Hoe lyk dit dan met ‘n koppie koffie? Mens sal ook doodgaan van die dors in die huis.”

Winnie sit met haar hande in haar skoot. Sy hou op vroetel en kyk na die ou man voor haar. Wat het van die sterk man geword? Wat het van die man geword wat die lewe laag getackel het, skouer eerste, kop af, voluit? Die plaas was sy lewe. Dit was háár hele lewe. Dis haar grootword plek. Dis waar die herinnering aan haar ma die varsste lê.

“Ek sal gaan maak Pa.”

Hendrik Stofberg sit met die koerant op sy skoot. Hy hou op met lees en kyk na die jong vrou voor hom. Wat het van die dogtertjie geword? Wat het van die sproetneus geword wat kaalvoet die wêreld tegemoet gehardloop het, altyd gelag het? Die plaas was haar lewe. Die plaas was sy einde. Dis waar Liesbet se spook hom elke dag kom opkerf het.

“Dankie, my kind. Nie so baie melk nie, asseblief.”

“Ja Pa.”

Sy sit die ketel aan. Sy druk haar kop teen die kombuiskas en maak haar oë toe. Sy kap haar kop ritmies teen die kas terwyl die trane teen haar nek afloop. As sy ‘n seun was, sou dit anders gewees het. Sy sou nou geboer het. Al haar notas en planne vir nuwe boorde en gewasse sou op sy ou lessenaar gelê het, gereed vir geboorte. In plaas daarvan maak sy koffie in ‘n aftree-oord vir ‘n ou man wat soos haar pa lyk.

Hy maak weer die koerant oop. Hy moes dit al lankal gedoen het. Hy moes al lankal die plaas verkoop het. Met die vorige droogte al. Voor Liesbet siek geword het. Hulle sou dan kon gaan toer het. Sy wou altyd so graag Ysland toe gegaan het. Maar in plaas daarvan het hulle vrugtevlieë, hael, droogte en die vrugteraad beveg. Hy kyk om hom rond en sien sy klein plekkie sonder spoke. Hy sit sy voete op die rusbank, maak sy oë toe en sug verlig. Hy het hom voorgeneem hy sal geen kind van hom forseer om te gaan boer nie. Hy sal nie aan hulle doen wat sy pa aan hom gedoen het nie. Hy sal hulle hul vryheid gee.

Sy dra die skinkbord in die sitkamer in. Haar oë is rooi. Haar hande bewe.

“Hiersô Pa. Ek sit sommer hier neer.”

“Dankie my kind.” Hy gooi suiker in en kyk uit op sy klein tuintjie sonder vrugte vlieë en besproeiïng.

“Ek weet nie of jy gehoor het nie?”

“Wat Pa?”

“Die plaas is toe mos verkoop.”

 

Tronkina for President

Tronkina de Wit het by die vliegtuig venstertjie uitgeloer. Onder haar het die baanblad vinnig verbygesnel. Die vliegtuig het te swaar gevoel. Haar handpalms het sweterig die armlening vasgeklem. Die spoed het haar soos ‘n onbekwame lover teen die sitplek vasgedruk en die asem uit haar longe forseer. Asemloos, net vir ‘n oomblik. En toe was hulle in die lug. Gewigloos het hulle Kaapstad agtergelaat. Net die liggies het in afgemete blokke vir oulaas simmetries gewink.

Totsiens my stad, het sy geswymel.

Jy gooi my weg om dollars te gaan verdien soos ‘n pimp ‘n goedkoop vrou afsmeer aan die nag. Ek sal terugkom. Jy sal sien, het sy belowe toe die sitplekgordel liggie afgaan.

Die lugwaardin se grimering het haar gemasker teen ingehokte reisigers. Die lemoensap was sleg en die plastiek vurk en mes het gerebelleer teen die taai lam. Die Niniput toilet het gestink en die man langs haar het oor sy stoel gewal in rolle vetsug tot op haar skoot. Haar bene het gekramp en die babatjie twee rye voor haar het homself bekendgestel aan almal en uur na uur sy verset teen sy geboorte uitgesaai. En wie kon hom blameer, het Tronkina gedink.

Niemand weet verseker wat die laaste strooi was wat die spreekwoordelike fan getref het nie. Party sê dit was die kos. Ander beweer dit was die turbilensie. Sy het ná die voorval in ‘n eksklusiewe onderhoud met Steve Hofmeyer gesê dit was die engel wat op haar skoot kom sit het.

Dit maak nie regtig saak nie, sing die sangeres.

Die volk is deur die kak, sing die sanger. Deur of in, Tronkina het dit laat spat.

Hulle weet tot vandag toe nog nie hoe sy in die cockpit ingekom het nie. Ook nie waar sy die tradisionele wapen in die hande gekry het waarmee sy die kaptein gedreig het nie. Nie eers Huisgenoot kon haar tot die waarheid bekeer nie.

Die passasiers het onraad vermoed toe Tronkina se stem oor die interkomstelsel begin streel.

Dit is julle kaptein, volksmoeder Tronkina Johannie Volsckenk de Wit, wat praat. Julle is nou veilig. Ek het julle kom red van die imperialiste, die kolonialiste, die kapitaliste en die wêreldheersers wat julle uit ons land ontvoer. Ons gaan terug. Terug huis toe, het sy triomfantlik gekloek. Die land het ons nodig!

Moenie bevrees wees nie, my broeders en susters. Die rebellie het begin. Saam sal ons geskiedenis maak. 

Die beheertoring het gepanick. Om die minste te sê en as hulle nog nie die Airplane movies gesien het nie, dan het hulle sekerlik die Ben Ladin uncut weergawes gesien om genoeg prentjies van katastrofe en lewensverlies in hul verbeelding op te tower.

Tronkina wou met niemand praat nie en dit was gou duidelik dat niemand haar sou kon begelei om die groot voël hand alleen te laat land nie. Wat nog te sê in een stuk terug te bring nie. Sy het op een of ander manier dit wel reggekry om met Amoré Bekker op die lug te gesels.

En daar, in die voorhuis van die hele land, het Tronkina haar vryheidstog begin. In die koutjie van ‘n British Airways kanarie. Sy het soos ‘n Racheltjie de Beer van ouds voor die in-en-uitgang van haar huis gaan lê om haar mense teen die koue van geldgierigheid en landsverraaiing te beskerm. Jonk en oud het vasgenael voor die draadloos gesit en luister en gewag.

Moet nie worry nie, my volk. Ons kom terug. Ons gaan julle nie verlaat nie, al word ons uitgestoot deur die staat, die ekonomie, die crime. Die enigste crime wat hier vandag gepleeg is, is dat ons nie al vroeër omgedraai het nie. 

Tronkina het op die ou end nie self die vliegtuig geland nie. Miskien jammer, want dan sou sy nou éérs ‘n hero gewees het. Maar sy was klaar een, so die kaptein het sy ding gedoen. Tronkina is op allerhande aanklagte in hegtenis geneem, maar dit het net haar vryheidsvegterstatus verhoog. Die pers het die storie opgeraap en baklei vir ‘n enkele onderhoud. Baie mense is nog steeds land-uit, maar ten minste het die wat agtergebly het, iemand gehad na wie hulle kon draai vir inspirasie en inbors. Later is selfs ‘n beeld van haar borste by die Voortrekker monument onthul. ‘n Haas is op die linker bors getatoeëer.

Die enigste deel van al die gebeure wat my brein steeds laat kriewel, is dat niemand haar ooit gevra het waar haar naam vandaan kom nie.

 

Die Aggressor

“Hou op huil, bitch!”

Daar is moord in sy oë. Die keer is hy gereed. Hy sal haar wys.

“Slaan haar!”

Sy hand huiwer bo sy skouer. ’n Spottende glimlag gly oor haar gesig. Sy weet.

“Dís jou line. Slaan haar!”

Sy begin saggies te lag. Dan harder. Totdat sy histeries haar kop agteroor gooi en met ‘n rooi, oop bek lag. Dit ruk deur hom, ruk deur sy hand.

“Dammit, Marnus. Dít was die oomblik. Ons het nie tyd om…”

Die regisseur druk sy vingers in sy hare en draai om. Hy haal diep asem, draai terug en vee olie strepe deur sy hare.

“Ek weet dis nie maklik nie, maar jy moet hóm raak. Jy ís die aggressor, jy is die doos, jy ís hierdie man. Vir 45 minute op díe verhoog moet jy uit jou vel klim, in syne in. As jy dit nie kan doen nie, dan… dan moet ons iemand anders kry.”

“Nee, nee. Dis nie nodig nie. Ek kán. Dis net. Dis net die één scene. Ek kán. Ek sal.”

Pleitende oë flits.

“Goed. Ek… Let’s call it a day. Sonja, nice emosie daar op die einde. Onthou net om jou lyf  meer vorentoe te draai, oop bene. Jy weet. Wys die vulnerability en confront die gehoor. Nice, nice. Sien julle môre. Marnus. Kry rus.”

“Ek sal. En. Dankie.”

Sonja lag back stage.

Marnus gaan sit op die kant van die verhoog terwyl almal opruim en gesels-gesels uitstap. Asof niks gebeur het nie. Sy loopbaan is besig om uitmekaar te val en hulle lag en gesels asof alles maar net fyn pikkewyn is.

Die laaste voetstappe eggo uit die saal uit. ‘n Deur slaan toe. Die stilte sif neer uit die balke en bedek alles met ‘n lagie gedempte verdriet.

Daar is niks so tasbaar soos die stilte in ‘n leë teater nie. G’n wonder daar is altyd stories van spoke in die teaters nie. Dis ‘n teelaarde vir visies en vergesigte. Dalk is dit die spoke van al die mislukte akteurs wat rondloop en nuwelinge probeer waarsku teen die doemende einde wat op meeste van hulle wag.

Dis te laat vir hom. Hierdie rol is net te veel. Hy is besig om van sy kop af te raak. “Wórd hom.” As die regisseur maar weet wat hy van hom vereis. As hy maar weet hoe hy elke aand met hierdie karakter stoei.

“Marni?”

‘n Slanke hand vryf oor sy skouer tot voor oor sy bors. Hy vat haar hand vas. Sy fladder met haar lippe teen sy linker oor. Sy sê iets, maar die intensiteit en haar asem in sy oor, lei sy aandag af.

“Uhm?”

“Ek sê.” Haar stemtoon val en die asemrige fladder lilppe druk harder teen sy oor. “Is jy lus? Kán jy?”

Hy kan die spot in haar stem hoor.

“Wat dink jy, Sonja?”

Hy draai om na haar toe. Sy stap agteruit, trek hom in die rigting van die stel.

“Jy weet jy is besig om my hele loopbaan in die wiele te ry, né?”

“Wie, ék?!” ‘n Onoortuigende slap hand druk teen haar bors.

“Jy het nog nooit so onoortuigend gelieg nie. As dit ‘n oudisie was, het jy nie ‘n call-back gekry nie.”

Sy lag met ‘n selfgenoegde tevredenheid.

“So nou is dit my skuld dat jy nie hierdie onskuldige, vroom vroutjie kan slaan nie?”

“Onskuldig? Vroom? Gmf!” hy snork verontwaardig.

“Kom hier dat ek jou kan kalmeer.”

“Ek kan net nie. Jy is net so… so…”

“Jy weet, as ek nie van beter geweet het of jou vrou geken het nie, sou ek sweer jy klink soos ‘n verliefde skoolseun.”

“Ek is nie! Ek… dis net… Ons albei weet tog hier kan niks van kom nie.”

“O, I beg to differ.”

Sy stap uitlokkend nader aan hom en soen hom fladderend in die nek. Haar hand is op sy gulp en druk aspris teen sy manlikheid.

“Ek is nie so seker hier gaan niks van… kóm… nie.”

Hy snak na sy asem.

“O Sonja. Ja…”

“Ja, wat?”

“Ja, slaan my.”

“Slaan my, wie?”

“Slaan my, asseblief, prinses Sonja Visser.”

“Uit! Uit met jou broek. Op jou knieë!”

Hy gehoorsaam met kort asemteue. Die opwinding bou op.

Sy gaan sit op sy rug en ry hom soos ‘n perdjie.

“Kom, my stallion. Op! Op!”

Sy lag weer as sy sien hoe hy sukkel om ‘n ereksie te kry.

“Slaan my asseblief!” pleit hy.

Die eerste hou weergalm deur die gebou. Hy sidder en runnik.

“Daar, daar, dis beter. So moet jy mos styf word.”

Die tweede en derde houe is harder en vinniger. Met die vierde begin sy onderlyf te ruk. Met die vyfde is daar ‘n kol op die verhoog.

“Daar, daar. Sien. Dis hoe mens dit doen.”

Sy klim van hom af en gooi ‘n sneesdoekie in sy rigting.

“CUT!”

“Wat de…? Wat is dit die? Wie is hier?”

“Niemand nie, jou idioot. Dis net ek. En my kamera.”

Sy stap in die hoek in en haal ‘n kamera van ‘n driepoot af, druk ‘n paar knoppies. ‘n Blikstem wat soos syne klink smeek om geslaan te word, die houe volg en dan runnik hy. Sonja gooi haar kop agteroor en lag histeries. Sy vou vooroor en moet aan ‘n stoel vashou om nie te swik nie. Sy druk ‘n paar knoppies en die runnik eggo weer deur die leë teater.  Marnus strompel vorentoe terwyl hy nog sy broek probeer vasmaak.

“Sonja, dis nie snaaks nie. Gee dit hier!”

Sy spring rats agter ‘n tafel in. Die kamera se kreune volg haar om die tafel soos sy van hom af wegtrippel.

“Sonja! Wat wil jy anyway daarmee maak?”

“Wel, ek het gedink. Siende dat ek nie laas jaar oorsee gereis het nie, kan jy my dalk Thailand toe stuur. Om te herstel. Jy weet. Van hierdie traumatiese verhouding. Siende dat jy nie jou vrou wil los nie en jy my hart gebréék het…”

Sy slaan haar hand dramaties teen haar hart en druk die agterkant van haar hand in gefeinste passie teen haar voorkop.

“Ek glo dit nie. Jou teef! Pers jy my af?!”

“Sjoe Marnus. Dis darem ‘n baie gemene ding om aan iemand te doen. Ek sal mos nooit só iets doen nie. Ek eis maar net… sal ons sê… ‘n bietjie kompensasie vir… dienste gelewer.”

“Dienste gelewer? Ek het nooit eers aan jou geraak nie!”

“Maar ek is sielkundig geskaad omdat jy my gedwing het om jou te slaan tot jy kom.”

“Gedwing?! Jy het dit uit vrye wil…”

“Jy is ‘n siek man, Marnus. En as ek dit vir jou vrou of vir die teater wys…”

“Jy sal nie!”

“Watch my.”

Hy buig oor die tafel en plant sy hande ver uitmekaar uit. Hy leun nader, staar na haar.

“En om te dink ek het van jou gehou. Régtig van jou gehou.”

Hy trek ‘n stoel uit, gaan sit en haal ‘n tjekboek uit sy sak uit.

“Hoeveel?”

Sy glimlag ingenome.

“Dertig.”

“Duisend?”

“Wat anders, Sherlock?”

Hy teken, skeur uit.

“Die memory kaart vir die tjek.”

“Deal.”

“Jy weet ek kan dit net by jou afvat en daarvan ontslae raak?”

“Ek weet jy sal nie aan my raak nie.”

Hy kyk met pleitende oë na haar.

“Asseblief Sonja. Dis onnodig. Niemand hoef hiervan te weet nie.”

Sy stap stadig nader. Haar heupe knak met elke tree. Haar kop rol uitdagend rond. ‘n Genoegsame glimlag trek aan haar mond. Sy hou ‘n hand met ‘n memory kaart uit na hom.

 

Hy kyk na die kaart. Hy kyk na haar rooi bek wat hom uitkoggel. Hy lig sy hand stadig op tot bokant sy skouer.

“Sláán haar!” weergalm dit in sy kop. “Dís jou line. Jy is die aggressor, word die doos!” skree dit deur hom.

‘n Kyk van onsekerheid flits oor haar gesig.

Sal sy pleit? wonder hy. Hoe sal dit voel as sy hand haar gesig tref? Elke aand. Sal dit brand?

Stadig laat sak hy sy hand. Hy vat die kaart uit haar hand uit.

Hy begin saggies te lag. “Slaan my nog net één keer? Toe?”

****

DIE AGGRESSOR SEëVIER 

Kaapstad. – Marnus Loubser het ‘n tweede toekenning ingepalm vir sy rol in die kontroversiële toneelstuk, Die Aggressor. Hy is gister deur die ATKV as beste akteur aangewys by díe jaar se glans Top Toneel toekennings. Hy speel teenoor Sonja Visser wat vroeër die maand opspraak gemaak het nadat sy gehospitaliseer moes word weens die fisiese vereistes van haar rol. Die rol is fisies en geestelik só uitdagend dat Visser weens uitputting en trauma inmekaar gestort het. Die Aggressor se speelvak is verleng met twee maande danksy die oorweldigende reaksie van gehore.

 

 

 

 

 

 

 

Hello Kitty

Hello Kitty

Ek versamel hartjies. Ek hou van pienk en my beddegoed is alles Hello Kitty. My ma sê dogtertjies moet hulle rokkies mooi skoon hou en ek mag nie my nuwe pêntie met die hartjies vir die seuntjies by die skool wys nie. Elke oggend voor skool vleg sy my hare. Twee perfekte vlegsels. Ewe hoog. Middel paadjie so reguit asof dit met ‘n liniaal getrek is.

My ma slaan ons nie met die liniaal soos Ouma Betta nie. As ons stout is, vat Mamma ons na Pappa se ou studeer kamer en praat saggies met ons. Soos vandag. Sy praat van die Here en Jesus se hartjie wat so seer is en die sterretjie in my hart wat moet skyn en Pappa wat ons uit die hemel dophou. Ek kyk na die foto van ons gesin op sy ou tafel. Pappa en Klein Boeta is nog op die foto. Ek kyk by die venster uit en kyk of ek nie vir Strepies gewaar nie. Mamma begin huil en gaan lê met ‘n brandewynlappie op haar voorkop en sê ons moet buite gaan speel, sy wil rus. Ouma sê Mamma moet eerder die brandewyn drink, dan sal sy beter voel.

Ek klim op die dak en wag vir die duiwe of die katte om te kom rus. Ek hou nie van ons bure se kat nie. Hy skree my altyd wakker. Hy sing nie mooi soos die voëltjies voor my venster nie. Hy skree soos Klein Boeta toe hulle hom by die hospitaal gaan koop het.

Ek het vir hulle gesê hy is stukkend, hulle moet hom gaan omruil of terugvat, maar hulle het nie na my geluister nie. Dis eers toe Mamma hom op die grond voor die kôt gekry het, dat hulle hom met die hospitaal se waentjie kom haal het. Maar die mense daar wou hom nie omruil nie. Ek hoop hulle het ons geld terug gegee. Ek wil ‘n pienk fiets vir Kersfees hê.

Ek wag op die dak. Strepies kom aangesluip. Hy is duidelik lus vir duif. Hy sien my nie waar ek wegkruip nie. Ek het Groot Boeta se gun geleen. Ek moet nog net vir hom daarvan sê. Ek mik vir sy regter boud. Groot Boeta sê ek moet die metaal strepie deur die ogie pas en dán trek. Ek mik mooi. Die gun klikruk teen my skouer. Strepies lê stil op die dak. Ek kruip nader en bekyk die affêre. Daar is nie ‘n merkie op sy boud nie. Dalk het die koeël sy gaatjie getref? Ek lig sy stert op, maar sien niks. Ek vryf oor sy sagte pelsie. Die gemmer haartjies kielie my vingers. Ek kry die perfekte rooi kolletjie op sy agterkop. Swart druppels loop af en dam op die dak. Ek wonder of dit sal skoon reën?

Die groot kombuis mes is lekker skerp. Die lem gly maklik deur die vel. Die hartjie is kleiner as wat ek gedink het dit sou wees. Ek rol dit in my hande. Van die een na die ander. Dis só mooi.

Ek maak die blikkie oop. Ek maak ‘n plekkie langs die duiwe en hoender hartjies. Ek bêre die blikkie weer op sy geheime plekkie.

Ek wonder waar Mamma háár blikkie wegsteek.

Ek versamel hartjies.

Die Braai

“O dis jy, Maggie. Kom in, kom in! Ons het vir jou gewag.”

Hy spring op en trek sy das en baadjie reg.

“Krokodil, skuif op en maak plek. Sy kan hier tussen ons sit. Hou dáái stoel oop. Mikhail of Nelson gaan dalk enige oomblik hier opdaag. Mens weet nooit.”

“Hoog tyd jy daag op, nou kan ek begin braai,” mompel Krokodil met ’n dik onderlip.

Ronald stap vinnig oor na die hek, waar Margaret die kamer krities bekyk, handsakkie in die hande beskermend voor haar vasgeknyp. Hy raak aan haar elmboog en dan gooi hy sy hande om haar skouers en gee haar ’n hartlike druk.

“Wat ’n voorreg om jou weer te sien. Jy lyk goed! Soos altyd, natuurlik. Jy het geweet daardie blou pakkie was my gunsteling.”

Sy hartlikheid laat haar ontspan en sy laat haar hand liggies op sy arm rus.

“Ek weet dis alles baie nuut, dis ’n vreemde ervaring, maar dis nie so sleg hier nie. En hulle hou ons besig. Elke Dinsdagmiddag speel ons krieket in die plein. Op die oomblik is die gedugste spanne Die Kolonialiste vs Die Res. Ons loop nog voor, danksy die Spanjaarde wat ek gewerf het. Hulle weet nie veel van krieket af nie, maar hulle vernietig enige span in hulle pad. Ek het net die kruis met ’n kolf vervang. Ons speel bingo op Woensdae en elke Donderdag maak hulle die waterwurm oop. Ons noem dit die Freudian slip!”

Ronald klap sy bobeen van lekkerkry en lag met groot oopmond-uitbundigheid vir sy eie grappie.

“En elke Vrydag en Maandag bied ek toneelklasse aan. Dié seisoen doen ons ’n stuk wat ek self geskryf het genaamd: Duck! How to avoid getting assassinated. JFK het nie gedink dis snaaks nie.”

Weer eens die klap op die bobeen en ’n uit-die-maag-lag. Hy vee die trane af en lei haar na die oop stoel langs die Krokodil.

“Goeiemiddag Margaret.”

’n Koel hand word uitgesteek en Margaret neem dit ferm in haar hand en gee ’n bedagsame handdruk.

“Hierdie ystervrou het baie geoefen om die perfekte handdruk te gee,” beduie Ronald aan die Krokodil. “Nét ferm genoeg. Nie té pap nie, want dit mag ’n indruk skep van swakheid. Nie té aggressief nie, want jy wil vriendelik kan onderhandel. Sy gee hom nét reg. Ek noem dit die perfekte staatsgreep.”

Hierdie keer moet hy vinnig sit om te keer dat hy nie omval van die lag nie. Margaret glimlag geamuseerd en trek ’n stoel nader terwyl sy die omgewing bespied. Die stoele is rondom ’n braaiplek gerangskik met die hout netjies opgestapel met fyn houtjies in die middel.

“Ek dink iemand het ’n baie snaakse sin vir humor hier bo, want ek en PW is kamermaats.” (“PW” spreek hy uit as “Pie-whie”.)

Die Krokodil ignoreer Ronald se opmerking en vestig sy aandag op Margaret. “Ek het vir jou ’n glas melk saam met ons braai bestel. Hoop dis in orde.” Die Krokodil leun terug in sy stoel met sy vingerpunte wat saggies teen mekaar druk in ’n kerktoring voor sy bors. Hy grinnik selftevrede. “Soos Langenhoven, ’n wyse man in my land, eendag gesê het: ‘Hy dink hy’s kaas, en dan is hy nog nie eers dikmelk nie – hy dink hy is alte waffers; hy dink hy is vreeslik belangrik.’”

Margaret kyk vraend na Ronald vir ’n verduideliking. Hy kyk na haar en trek sy skouers op, leun nader aan haar en sê in ’n fluisterstem: “Ek weet ook nie. Hy was nog nooit weer reg na daai eerste aanval nie. Maar ons almal het dit mos geweet. Party dae knik ek maar net my kop en maak asof ek verstaan. Ander dae is hy so deurmekaar dat hy sy bedkassie plein toe dra en dan staan hy daar met sy vinger in die lug en maak toesprake vir almal wat verbyloop. Daar is gewoonlik ’n paar van die ou manne, soos Joe en Braam en Chris, wat hom met vrot tamaties of eiers bestook. Laas week toe het Eugène met ’n perd daar aangegalop gekom om vir PW te verdedig teen die tamatiegooiers. Natuurlik toe daag DF, BJ, HF en nog ’n paar ander ouens op wie se letters ek nie kan onthou nie.”

Ronald lig sy hand op om homself te onderbreek.

“Maggie, herinner my tog dat ons vir FW vra, wanneer hy opdaag, wat die storie is met al die Afrikaanse ministers en presidente wat hulle voorletters gebruik in plaas van hulle name.”

Margaret knik haar kop ingedagte, keep in die voorkop, lippe dun gepers.

Die Krokodil sit nog ’n stompie op die hoop hout.

“Waar was ek nou weer? O ja, die plein-onluste. Dit was so erg dat hulle Petrus se manne moes instuur om die gedoente te ontlont.”

Margaret skud haar kop in ongeloof.

“Ek geniet die petalje. As ek sien dis nou weer sulke tyd en PW gaan vort met sy bedkassie, dan maak ek dat ek gou op die plein kom om ’n goeie sitplek te kry vir die show. Dit voel weer soos die ou dae van die Koue Oorlog of soos ons onderhandelinge met die Iere. Jy gaan dit hier geniet.”

Ronald knipoog vir Margaret en hulle twee lag ondeund.

Die Krokodil het intussen opgestaan en krap tussen die hout met ’n vuurtang. Hy sit die rooster op en hou sy hande oop oor die droë hout asof hy die hitte toets. Hy brom ingedagte en stap na die bak met die vleis. Afgemete sit hy die tjops op die rooster. Hy gaan sit weer tevrede en staar met ’n ver-af kyk in die oë na die plek waar daar veronderstel is om kole te wees.

“Ek hoor jou begrafnis was so ’n affêre?”

Margaret draai vies na Ronald toe en sit haar hande langs haar op die leuning van haar stoel asof sy reg is om op te spring.

“Ag ou Ron, moes hulle nou regtig al die ou koeie uit die sloot uit grawe? En met koeie bedoel ek die issues én die mense. Dit was quite a circus. Maar dan het hulle ook geweet, I won’t go quietly! Hulle het gedink ek sal in my graf omdraai as hulle die Argentyne nooi of dié een of dáái een. Maar hulle moet mos nou al teen dié tyd weet, The lady’s not for turning!

Dié keer val Ronald amper van die stoel af soos hy lag.

“Ja, myne was seker die beste show waarin ek nie self gespeel het nie. Beste optrede van my lewe.”

Hulle staar stil na die droë hout en koue vleis. Die stilte is gevul deur diep nadenke en die Krokodil se tang wat ritmies teen die rooster rinkel soos hy die vleis omdraai.

“Besef hy dat daar geen vuur is nie, Ron? Of word vuur nie in die hemel toegelaat nie?” vra Margaret.

“Ek is jammer om jou dalk teleur te stel, Maggie. Hoe sal ek dit nou verduidelik? Mmm, dinge is anders hier as wat ons dit vir onsself voorgestel het. Hier is nie ’n plek soos die Hemel of die Hel nie. Ons is almal saam in één stad. Maar elkeen se ‘hemel’ of ‘hel’ soos ons dit gevisualiseer het, word bepaal deur wat jy hier kry of nié kry nie, met wie jy kan gesels of nié gesels nie. Dit is elkeen se eie individuele ervaring van ons stad en sy mense.”

Margaret kyk met nuwe oë na haar omgewing, en na die groot Krokodil langs haar.

“Daar ís vuur in die stad. Maar hy sal vir ewig nooit weer ’n vuur kan maak nie. Hy sal nooit ooit weer kan braai nie.”

PW draai weer ’n tjop om. Bloed drup stadig uit die vleis uit en val in ’n rooi poel onder in die braaibak. Maggie staar verstar na die stapel hout en sien PW se weerkaatsing in die plas bloed.

“Welkom in sy hel.”

http://www.litnet.co.za/Article/die-braai

Margaret Thatcher with Ronald Reagan

Margaret Thatcher with Ronald Reagan (Photo credit: Wikipedia)